Brood bak is een van die genotvolste dinge wat in ’n kombuis kan gebeur. Afgesien van brood eet natuurlik! Een van die maklikste om saam te slaan is focaccia. Dat iets so plat mens nou soveel plesier kan gee. Koop jy ’n focaccia in ’n winkel moet jy ’n tweede verband uitneem. Ek kan nie verstaan hoekom nie, want die bestanddele kos so te sê niks nie en dis nou nie asof jy enigsins ’n bobaas bakster hoef te wees nie. Al wat die knaap vra is tyd om te rys.

Gepraat van bobaas, oor die jare heen het ek vele focaccia resepte probeer, onder meer Britse bak-superster Paul Hollywood s’n. Ek het ’n spesifieke idee oor die ideale focaccia in my kop en nie een van hulle (pragtige blou-oog Paul s’n ingesluit) het die ding vir my gedoen nie.

En toe kom ek af op die focaccia resep van Amerikaanse TV-sjef Anne Burell – en ek ontdek wat kort geskiet het met al die ander: olyfolie mense. Ja, die ander resepte het weliswaar olyfolie gebruik, maar nie naastenby genoeg nie. Anne sê ’n ordentlike focaccia moet amper verdrink in die olyfolie en nou dat ek hom gemaak het stem ek hartlik saam. Die tekstuur van hierdie focaccia is nie kluitjierig nie, dit heerlik sag binne met groot gisgate. En onder is hy bros en deurweek van die olie. Anne sit nie roosmaryn by nie, maar ek dink dit gee hierdie focaccia ekstra skop. Dis die naaste aan my idee van die ideale focaccia nog, en die resep wat ek van nou af gaan gebruik.

Al wat jy nodig het is…

1¾ koppies louwarm water
10g pakkie kitsgis
1E suiker
5 koppies broodmeel (plus ekstra vir knie)
1E sout
1 koppie goeie olyfolie (plus ekstra om die bak te smeer)
goeie seesout vlokkies (Maldon s’n is perfek hiervoor)

Sit die louwarm water, suiker en gis in ’n bak en laat dit in ’n warm hoekie staan vir ten minste 15 minute sodat die gis kan aktiveer en begin borrel. As jy ’n groot menger met ’n deeghoek het is dinge woes maklik. Voeg eenvoudig die gismengsel, meel, sout en ’n halwe koppie van die olie in die mengbak en lat jou deeghoek die werk vir 6 minute doen. (As jy nie ’n menger het nie kan jy dit met die hand doen. Dis net nie die aangenaamste kniewerk nie want hierdie is ’n redelike nat deeg.)

Bestrooi ’n werksoppervlak met meel, tuimel die deeg uit en vou dit ’n paar keer oor. Smeer ’n groot bak liggies met olyfolie, sit die deeg in en maak dit toe met kleefplastiek of ’n klam vadoek. Sit dit in ’n warm hoekie vir ten minste ’n uur sodat dit kan rys tot dubbel so groot. Gooi die orige halwe koppie olyfolie in ’n gewone vlak bakpan (die soort wat jy vir koekies bak gebruik), tuimel die deeg daarop uit en gebruik jou hande om die deeg plat te druk sodat dit die pan vul. Draai die deeg om sodat albei kante goed met die olyfolie kennis maak. Gebruik die punte van jou vingers om gate in die deeg te druk – dis wat die focaccia sy lieflike bababoudjie-dimpels gee as hy eers gebak is. Sit dit eenkant vir nog 40-60 minute tot dubbel so groot. Steek nou roosmaryn in en strooi seesout vlokkies oor. Die resep is spesifiek aangepas vir die seesout bo-op. Doen jy dit nie, gaan die focaccia nie sout genoeg wees nie. Bak in ’n voorverhitte 220 grade Celsius oond vir 25-30 minute tot goudbruin. Lê weg!

bedien

6-8

staan

2 ure

bak

30 min

scroll-main

goed om te weet

Oor brood rys

As ek sê “sit dit in ‘n warm plek om te rys” bedoel ek ‘n medium warm gemaklike plekkie. Soos in ‘n kamer sonder ‘n trek. Nie in die son nie, nie in die warmoond nie en gewis nie in die oond nie. As dit so koud soos ‘n heks se hart buite is en binne is dit net 15 grade sal dit steeds rys, dit sal net langer vat. So verbeel jou die deeg is ‘n puisie op ‘n andersins vlekkelose tienervelletjie en los die verdomde ding uit. Maak ‘n koppie tee en gee daai gis kans om sy ding te doen.

scroll

Nog idees vir jou focaccia

1) Sit pitlose swart of groen olywe op.
2) Sit baie dun ringetjies pers uie op.
3) Of selfs repies ansjovis. Dit neem dit half in die rigting van ‘n Franse pissaladiere. Maar wie gee nou om. Dis mos jou kombuis, so maak nes jy wil.

lekker saam met

Focaccia mag miskien Italiaans wees, maar brood met hope olyfolie en roosmaryn laat my onvermydelik aan lang lui dae in Provence dink. De Krans het sy 2018 Pinotage Rosé aan die begin van April bekendgestel. Dinge is woes in die Kaap met die droogte en dit was een van die moeilikste oeste nog. Ek’s verlig ‘n 2018 kon die lig sien en ek is seker die wynmakers ook! Hierdie Rosé van de Krans het hope rooi vrugte op die tong. Op die neus sal jy elegante roosblaar, spookasem en ‘n titsel aarbei optel. Die goeie suurbalans maak dit lieflik verfrissend.

Ek dink miskien aan Rosé as dié wyn vir somer, maar ek drink hom met graagte heel jaar lank. Teen publikasie was die 2018 in winkels beskikbaar hier teen R65. Of bestel dit direk by de Krans op hulle webwerf.

de Krans

scroll-main

Ook beskikbaar in: English