Salsa verde, of soos die Franse dit noem sauce vert, klink vreeslik fênsie. Dit is, op die regte manier – fênsie op die tong maar min moeite om te maak. Salsa verde beteken eintlik net groen sous. Dis ’n rou spul, niks gesukkel met potte en panne nie. Daar’s tonne resepte vir salsa verde en hulle almal het een ding in gemeen – hope kruie. Vir ruggraat by al daai vars groen kry hy dinge soos knoffel, ansjovis, kappertjie of rissie.

Vir hierdie weergawe sit ek groen olywe by, en bedien dit saam met roosmaryn-gemarineerde Karoo-lamtjoppies wat ek op die braai gooi. ’n Dis met sy kop in Italië, en sy voete in Afrika.

Al wat jy nodig het is…

VIR DIE LAM
8 Karoo-lamtjops
2 takkies roosmaryn
1 vet knoffelhuisie, in dun skyfies gesny
goeie olyfolie
VIR DIE SALSA VERDE
¾ koppie Italiaanse pietersielie, sonder stingels
12 groen olywe, pitte verwyder
6E goeie olyfolie
3E vars suurlemoensap
2E klein non pareils kappertjies (capers – Woolworths hou dit aan)
groot knip growwe swartpeper
groot knip seesout (Maldon is ’n groot gunsteling)
1 vet knoffelhuise, ongeskil maar met die platkant van ’n mes geslaan om hom oop te breek)

Sit die lam in ’n plat bak, bedek met roosmaryn blaartjies en knoffel en gooi ’n gesonde blerts olyfolie oor. Vryf hom in, bedek met kleefplastiek en plaas in die yskas vir ten minste ’n uur.

Om die salsa verde te maak, kap die pietersielie en groen olywe fyn. Meng die res van die bestanddele by, bedek en laat rus vir ten minste twee ure sodat die geure kan kennis maak. Onthou om die knoffelhuisie te verwyder net voor jy dit bedien.

Braai die lamtjops op ’n warm vuur of in ’n warm riffelpan tot gedoen na jou smaak. Bedien warm met ’n groot lepel salsa verde. Soos die salsa die warm tjop tref stel dit die wonderlikste geure vry! Ek hou van baba-aartappels eenvoudig in hulle skilletjies gekook by hierdie dis. Dit en natuurlik ’n glas goeie rooiwyn.

bedien

4

vooraf

10 min

staan

60 min

scroll-main

goed om te weet

Nog idees vir hierdie resep

1) Voeg fyngekapte ansjovis by

2) Voeg basiliekruid by

3) Voeg fyngekapte groenrissie by – verwyder die pitjies sodat dit nie te veel brand nie

4) Verander die salsa verde in ‘n tipe pesto affêre deur gekapte haselneute by te voeg

5) Skep die salsa verde op gebraaide hoenderborsies in plaas van lam

6) Skep die salsa verde op liggies gestoomde dun groenbone

scroll

lekker saam met

My keuse hierby is Van Loveren se Christina van Loveren Shiraz. Met hulle reekse soos Tangled Tree en Four Cousins is Van Loveren natuurlik bekend as wynmakers van bekostigbare elke-dag wyne. Niks daarmee fout nie, maar soms wil mens uithang en dan het jy ’n spogperd nodig. Dis presies wat jy kry met Van Loveren se Christina reeks.

Die reeks is vernoem na die familie matriarg wat in 1699 in die Kaap geland het. Wyne in die Christina reeks word gemaak van handgeplukte enkelblok druiwe in ’n afsonderlike boetiek-kelder op Van Loveren waar die fokus op kwaliteit en nie kwantiteit is nie. Die hele reeks het onlangs ’n ‘facelift’ gekry en spog met ’n pragtige nuwe bottelontwerp met ’n kamee van Christina daarop.

Hierdie is koswyne by uitstek. Die swaargewig houtverouderde Shiraz het peper op die neus asook bessie en ’n titsel spesery. Dis te koop in luukse wynwinkels asook by Makro. Of bestel dit aanlyn by Van Loveren teen R124 per bottel.

Van Loveren

scroll-main

Ook beskikbaar in: English