Wel mense, dis amptelik herfs. En niks kan my blyer maak nie want vroegherfs is my gunsteling, gunsteling tyd van die jaar. Die dae is steeds luiwarm, maar die oggende begin ’n onmiskenbare vars byt kry. So perfek. Die winkels is steeds vol van die somer se beste, plus daar’s nuwe-seisoen gunstelinge soos plompe pers vye en granate wat begin kop uitsteek.

My gedagtes being onvermydelik dwaal na die wonderlike koue-weer kos wat kom – pasteie, bredies en gebakte sponspoedings met vla. Bestanddele soos osstert, bees kortrib en haas begin vir my wink. Maar vir eers kry sampioene sommer baie van my aandag. Vir een of ander rede is hiérdie edele fungus vir my herfs op ’n bord.

Ek het ’n ongelukkige verlede met sampioensop. Een wat al die pad terug na my kinderdae toe strek. Terug na hotelle in klein plattelandse dorpies. Plekke met name soos die Royal en Masonic waar Pa ons Sondae vir middagete getreat het. Die spyskaart een van daai waar jy bó begin eet en ónder eindig. Eerste aan die beurt was altyd sampioensop, dan gebraaide stokvis met ‘tartar’ sous wat ek gedink het sommer baie grênd was. Volgende aan die beurt skaapboud met suikersoete soetpatats, aartappels én rys. Want toeka was koolhidrate nog nie die duiwel nie. En uiteindelik outydse Idealmelk roomys met heel ingelegde perskes en vla.

O jete, die suiwer sielsaligheid daarvan. Behalwe vir die sop. Dié was ’n waterdun afgrys-beigerige affêre wat uit ’n poeierpakkie gekom het. As die hotel baie fênsie was, was dit uit ’n blik. Ek het gedink aan die sop as huiswerk waardeur jy moes worstel om by die lekker wat wag te kom.

Natuurlik is dit nie hoe sampioensop moet wees nie. Nee, ’n goeie sampioensop is dik, romerig en propvol intense diep sampioengeur. Makliker kan dit nie wees nie. Al wat hy vra is parmantige ekstra geur in die vorm van ’n leksel knoffel en tiemie, baie goeie aftreksel en ’n berg sampioene. Mense vra my dikwels wat die geheim van goed kook is. Vir my lê dit in goeie bestanddele, eenvoud en kontras. Die hoekom ek hierdie sop bedien met truffel-en-parmesaan roosterbroodjies vir die knars. By dit ’n paar peperige blaartjies gekus met suurlemoen om al daai ryk romerigheid te balanseer.

Al wat jy nodig het is…

VIR DIE SAMPIOENSOP
1 koppie gekapte uie
1E botter
1E olyfolie
1E gekapte knoffel
750g knopiesampioene (of ’n mengsel van sampioene)
2 x 25g hoender-geur ‘Liquid stock concentrate’ stokkies van Woolworths
2 x 25g sampioen-geur ‘Liquid stock concentrate’ stokkies van Woolworths
2 koppies water
1 hoogvol teelepel vars tiemie
1 koppie vars room
1t varsgemaalde swartpeper
½t sout (Indien jy die Woolies aftreksel konsentraat gebruik het. As jy iets anders gebruik het, proe eers en pas aan soos nodig.)
VIR DIE TRUFFEL-EN-PARMESAAN ROOSTERBROODJIES
baguette op die diagonaal gesny
truffel-gegeurde olie (vervang met goeie olyfolie as dit moet)
wilde ‘rocket’
goeie parmesaan

Braai die uie oor lae hitte in die botter en olie vir vyf minute. Voeg die knoffel by en braai vir ’n verdere minuut of wat. Draai die hitte hoog, voeg die sampioene by en braai vir vyf minute. Dan kom die aftreksel, tiemie en water by, die deksel gaan op en jy prut die knaap oor lae hitte vir 20 minute. Blits dit daarna in jou voedselverwerker tot romerig glad. Gooi dit terug in die pot, voeg die room en swartpeper by en proe vir sout. As dit te dik na jou smaak is, voeg ekstra water by maar onthou om weer te proe, en sout en peper aan te pas soos nodig. Jy kan selfs ekstra aftreksel byvoeg. Proe eenvoudig en laat jou tong die weg aandui.

Om die truffel broodjies te maak, verf albei kante van die brood liggies met truffel-gegeurde olie en plaas onder jou oond se rooster tot ligbruin en bros. Bedek met parmesaan skaafsels en wilde ‘rocket’ blare liggies gekus met suurlemoen. Bedien dadelik.

bedien

4

vooraf

15 min

kook

40 min

scroll-main

Ook beskikbaar in: English