As saffraan vir jou ore aansit is hierdie winter die perfekte tyd om dié effe ongewone spesery van nader te leer ken. Onmoontlik om te beskryf en, as jy dit eers geproe het, onmoontlik om te vergeet, dís saffraan vir jou. Hierdie teer goue draadjies komende van die krokusblom is ’n fees op die tong en die oog. Net ’n klein knippie en die wêreld is borriegeel mense. Maar anders as borrie, is subtiele saffraan ewe tuis in sout en soet disse. Enige ding met rys (dink risotto en paella) smeek vir saffraan. So ook enige kooksel met seekos en tamatie (dink bouillabaisse). Dit werk goed in bros, botter-ryke koekies en selfs vla.

En dan is daar natuurlik saffraan pere – gesofistikeerd genoeg om skoonma se tong stil te kry, tog so maklik om te maak. Jy kan jou saffraanstropie eenvoudig hou met net water en suiker by. Maar hoekom sal jy, as jy fênsie kan wees met ’n koppie of twee Sauvignon Blanc ook? En omdat méér eenvoudig ‘fabulous’ is, kom pypkaneel en kardamom sommer ook by. Jy kan hierdie pere met hulle saffraanstropie met crème fraiche bedien. Ek verkies iets ligter en kombineer dubbelroom joghurt met geklopte room – die perfekte balans van verleidelike ryk gesny met ’n bietjie suur.

Al wat jy nodig het is…

Vir die pere
2 koppies droë witwyn (ek het Sauvignon Blanc gebruik, maar Chenin is ook piekfyn)
2 koppies water
1 koppie suiker
2 x 7cm stukke heel pypkaneel
5 kardamompeule, oopgekraak met die agterkant van ’n sjefmes
¼t saffraan
6 ferm pere, geskil (moenie bodder met ’n mes nie, ’n groenteskiller is perfek)

Vir die joghurtroom
1 koppie vars room, styf geklits met 2E strooisuiker
1 koppie dubbelroom plein joghurt

Sit al die bestanddele vir die pere in ’n pot en kook, al roerend, tot die suiker opgelos is. Laat sak die pere in die vloeistof (gebruik ’n diep pot waarin die pere net-net pas sodat hulle knus sit en bedek is met die vloeistof). Sit die deksel op en kook op medium-lae hitte tot net sag. Lig die pere uit en hou eenkant. Kook vloeistof met die deksel af op lae hitte tot dit stroperig is en gereduseer is tot omtrent ’n koppie vloeistof. Vou die geklopte room in die joghurt in. Sit pere voor met joghurtroom en saffraanstroop.

bedien

6

vooraf

10 min

kook

30+ min

scroll-main

Also available in: English