Pienk en borrelende drinkgoed is altyd ’n gawe idee in my boek. Maar as jy een van daais is wat ’n verskoning nodig het om ’n prop te laat skiet, is môre jou dag. Hier is ses prettige, borrelende pienk keuses vir jou Valentyn.

scroll-main

Jou sakpas keuse: Robertson se Brut Rosé.

Altyd voor in die koor, dis Robertson se wynmense vir jou. Hulle was inderdaad die eerste wynmakers in Suid-Afrika wat ’n droë pienk vonkelwyn bekend gestel het. Robertson se Brut Rosé vonkelwyn is verfrissend en – soos jy uit die naam kan aflei – droog. Op die neus sal jy elegante bloeisel bespeur en op die tong hope wilde aarbei. Dis vrugtig en pret, en teen R60-R65 per bottel, die perfekte sakpas keuse indien jou begroting nog pote in die lug lê oor jou onlangse Kersfees en skool-toe uitgawes. Hierdie is natuurlik ’n vonkelwyn, nie ’n sjampanje-styl MCC nie.

scroll-main

Jou plaaslike MCC keuse: Krone Vintage Rosé Cuvée Brut 2018.

Hierdie salmpienk juweel van die Twee Jonge Gezellen landgoed in Tulbagh is ’n versnit van 87% Pinot Noir en 13% Chardonnay. Op die neus dartel daar rooswater en ’n sweempie kus-suurvy. Op die tong is daar granaat en rooi bessie wat ontwikkel om versuikerde lemoen en witperske te onthul. Na die sluk is daar ’n elegante lang nasmaak met ’n sweempie geroosterde haselneut. Dis ’n MCC (Méthode Cap Classique) wat beteken dit word in Franse sjampanje-styl gemaak met ’n tweede gisting in die bottel om daai fyn borrels te vorm. Dis ’n romantiese feespienk bederf en is landwyd beskikbaar hier by die R150 merk.

scroll-main

Jou ware-Jakob sjampanje bederf: Nicolas Feuillatte Réserve Exclusive Brut Rosé.

Dié luukse bederf is die nommer-een sjampanje in Frankryk en die derde grootste verkoper wêreldwyd. Soos jy uit die allermooiste bottel kan aflei, is die kersiebloeisel-seisoen (Sakura) van Japan die inspirasie vir hierdie Franse sjampanje. Dis gemaak van 45% Pinot Noir vir struktuur, 45% Pinot Meunier vir vrugtigheid en ’n sagte, soepel karakter. Die laaste 10% is Chardonnay vir elegansie en finesse. Op die neus is daar aarbei, rooi-aalbessie en framboos. Droog, verfrissend, prettig. As jy vir jou Valentyn soesjie gaan gee, is hierdie Franse knaap ’n goeie keuse. Dis landwyd te koop met ’n gidsprys van R780.

scroll-main

Jou ek-voel-ryk premium sjampanje oomblik: Bollinger Rosé.

Min handelsname versinnebeeld die betowerende, amper oordadige luukse van premium Franse sjampanje so goed soos Bollinger. As jy hierdie Valentyn die jawoord gaan vra en daar’s geld oor na die ring, is hiérdie die knaap om die knoop mee deur te haak. Bollinger weet wat hulle doen. Hulle doen dit immers al sedert 1829. Bollinger se Rosé is ’n versnit van 62 Pinot Noir, 24% Chardonnay en 14% Pinot Meunier met 85% van die druiwe komende van Grand of Premier Cru wingerde – dis fênsie Frans vir net die beste van die beste druiwe.

Dis die mooiste salmpienk met die fynste van fyn borrels wat lank hou, nes mens kan verwag van ’n premium sjampanje. Op die neus is daar rooi-aalbessie, kersie en aarbei. Dis soos sy op die tong, met hope vrugtige wilde bessie. Daar’s net ’n paar keer in gewone mense se lewe wat jy die kurk skiet op ’n bottel soos hierdie. As môre se Valentyn só dag is vir jou, maak Bollinger Rosé jou keuse. Dis landwyd beskikbaar hier by die R1 230.

scroll-main

Jou anderste pienk borrels: Van Loveren se Perlé de Jean.

As vonkelwyn nie jou ding is nie, maar jy soek steeds die feestelikheid van borrels, is Van Loveren se Perlé de Jean die antwoord. Perlé-wyne – m.a.w. wyne met net ’n katspoegie vonkel – was gróót in die 80s en vroë 90s. Nou het Van Loveren nuwe skop in die ou perd gesit met ’n perlé gemaak vir ons 21ste eeu voorkeure. Die wyn is 100% Pinot Gris van wingerde wat ses jaar oud is. Dis droog en ongehout. Op die neus is daar hope rooi bessies, maar ook ryp sitrus. Dis ideaal by seekos (veral garnale!), hoeder, slaai en enigiets vegetaries en ’n sakpas anderste borrels keuse teen die R60 merk.

scroll-main

Jou heeltemal anderste pienk borrels: Four Cousins Fiver

Nog ’n anderste pienk borrel keuse uit die Van Loveren stal is Four Cousins se Fiver. Dis ’n drankie wat aanval sal vind by mense wat nie regtig mal is oor wyn-wyn nie. Hoekom? Want hoewel wyn die basis is, is hierdie allermins wyn. Dis in die wyn/vrugtesap mengdrankie kategorie. As iets soos Brutal Fruit jou bly maak, is Fiver definitief vir jou. Dis soet, met hope ekstra vrugte geur en die alkohol-vlak is net 5%. Bedien dit absoluut yskoud. Fiver kos hier by die R80 vir ses.

scroll-main

Also available in: English