Ek lieg oor my ouderdom so lekker as party mense oor hulle gewig vir die dokter, of hulle inkomste vir Jan Taks. Maar jok verander nie die feite. Ek wil nie praat oor wat alles inkrimp, afsak, uitsit of opswel nie. Kom ons sê maar net as ek afkyk is my knieë net nie meer dieselfde as tien jaar terug nie. My lyf se veranderinge ‘depress’ my miskien, maar hulle verbaas my nie. Ek het dit tog immers met Ma en Ouma sien gebeur. Wat my wél verbaas is hoe die jare met my tong sukkel.

Lief vir soet was ek nog altyd, maar deesdae is wat gister gewoon soet was, nou skielik sieklik stroopsoet. Meer en meer pas ek resepte aan, met minder vet en veel minder suiker as wat die ‘oumense’ gebruik het. Maar hierdie resep vir Ouma se fudge wou ek nie mee peuter nie, want dit flop nooit nie en het ’n lieflike tekstuur – daai fyn korreltjie kwaliteit wat enige ordentlike fudge het, sonder om te hard te wees. So die suiker en die botter bly nes Ouma hom gemaak het.

Om die vreeslike soet te sny maak ek ’n ander plan – hope bitter kakao kom by. ’n Blerts brandewyn sommer ook, want brandewyn en sjokolade is groot pêlle. Maar die eintlike ster hier is die lagie ‘cocoa nibs’. Effe bros, intens sjokoladerig en aangenaam bitter – dit werk net. Ek het nie ’n koekenkloe wat ‘cocoa nibs’ in Afrikaans is nie, en ek is seker Ouma het in haar lewe nooit oë daarop gelê nie. Maar ’n piepklein blokkie hiervan met ’n goeie brandewyn of Konjak aan die einde van ete… Ja, ek dink sy sou in haar noppies gewees het.

Al wat jy nodig het is…

4 koppies ligte bruinsuiker
1 koppie kookwater
100g gesoute botter
2E gouestroop
1 blikkie kondensmelk
4E kakao
1E brandewyn (opsioneel)
1 pakkie ‘cocoa nibs’ (loer my spesialis sjokoladewinkels en selfs sommige gesondheidswinkels)

Sit al die bestanddele (behalwe die brandewyn en ‘cocoa nibs’) in ’n pot en bring tot kookpunt terwyl jy deurentyd roer. Kook, al roerend, vir nog 25-30 minute (’n balonklitser werk goed hiervoor). Die fudge sal redelik dik word. Verwyder van die hitte, gooi brandewyn by en klits vir ’n minuut. Gooi fudge in ’n vierkantige plastiekbak wat met Spray ’n Cook gespuit is. Strooi die ‘cocoa nibs’ oor en druk saggies in die boonste laag van die fudge in. Laat staan tot geset en sny in blokkies.

maak

1 groot

vooraf

0 min

kook

35 min

scroll-main

Also available in: English