Ek kan aan min dinge dink wat minder aftrek kry as ’n boks sjokolade met ’n prentjie van Vader Krismis op… dis nou te sê die dag ná Kersfees.

Winkels se geskarrel om van die goed ontslae te raak om plek te maak vir die Valentyn-sjokolade is te koddig. Oor nege dae is die Valentyn-sjokolade ook nie meer ’n gewenste ding nie. Miskien selfs minder as die Kersfees soetgoed. Want as jy vir ’n pop op 15 Februarie ’n doos sjokolade met hartjies en katjies op gee, beteken dit net een ding: jy’t vergeet. Of, miskien erger, jy’s suinig.

Ontslae van die hartjies en katjies moet die winkels wees – die hoenders en hasies wag vir hulle plek op die rak. Lyk my ons meet die verloop van tyd in tjoklits.

Met dié dat Valentyn om die draai is, het my gedagtes in die rigting van harte begin beweeg. Miskien moet ek hartvormige panna cotta maak. Of hartvormige wafels. Maar my hart was nie in die ding nie, want sien, standaard rooi-rose-romanse ‘rev’ nou nie eintlik my motor nie. ’n Ou wat die vullisblik leegmaak sonder dat ek hoef te vra? Dís nou romanties. So hoe gemaak?

Gelukkig bel die vriendelike mense van SABC 3 se Expresso brêkvis show my. <em>Sal ek op TV kom kook?</em> Het Julius Malema ’n rooi hoedjie? <em>Kan ek iets met spanspek doen?</em> Engel, ek kan iets met saagsels en hoendertone doen as dit is wat jy soek. Gelukkig het hulle nie.

So hier is dit: my somervars spanspek-en-garnaal slaai. Dis seksie en meer as fênsie genoeg om Valentynsdag voor te sit vir jou Sagte-beertjie/Poppiedop/Engel-skapie.

Al wat jy nodig het is…

Vir die slaaisous
sap van een lemmetjie
skil van een lemmetjie, fyngekap
¾t Thaise vissous
¾t suiker
1t rysasyn
¼t sesam olie
1T vars koljander, gekap
1T vars basiliekruid, gekap
½t vars ment, gekap
halwe medium-warm rooi rissie, ontpit en gekap

Vir die slaai
spanspek
10 medium-grootte garnale, gekook en ontdop (hou die stertjies aan vir die mooi)
komkommer, papierdun gesny (gebruik ‘n mandolien)
seldery, dun gesny met die lengte langs
vars klapper, papierdun gesny (gebruik ‘n mandolien)
tatsoi blare
klein basiliekruid blaartjies
klein ment blaartjies
klein eetblare blomme

Meng die bestanddele vir die slaaisous en sit opsy sodat die geure kan ontwikkel. Sny die spanspek en rangskik op ’n bord met die res van die slaai bestanddele. Skep die slaaisous oor en bedien onmiddellik.

bedien

2

vooraf

20 min

kook

5 min

scroll-main

goed om te weet

Vegetariese opsie

As garnale nie jou ding is nie, kan jy hulle uitlaat. Vir ‘n vegetariese slaai met bietjie lyf, vervang die garnale met geroosterde kasjoeneute.

Gooi hulle eenvoudig in ‘n warm pan vir ‘n paar minute en skud hom af en toe tot hulle alkant goudbruin is.

lekker saam met

Met sy rissiebyt vra hierdie slaai vir iets vrugtigs met net ‘n sweempie suiker.

Boschendal se Blanc de Noir is ‘n ou staatmaker.

Boschendal BDN

scroll-main

Ook beskikbaar in: English