Spek kom van vark af. Dis wat ek jare lank geglo het – tot bedagsame vegetariese pêlle van my uitgewys het dat dit eintlik die vrug van die Porcus Excellentia boom is. Dat ek nou vir só lank só verkeerd kon wees.

Ek kannie sê ek blameer hulle nie, spek is darem ’n wonderlike ding. As ek vegetaries was sou ek seker ook aan Porcus Excellentia gedink het om oor die klein tegniese probleempie van vark te kom. Praat van spek skiet.

Spek en avokado. Spek en feta-kaas. Spek en tamatie. Omtrent die enigste ding wat nie by ’n stukkie spek kan baat nie, is roomys. Miskien selfs dit. Dan’s daar natuurlik my gunsteling, gunsteling – spek en eiers. Dis nie net vir die oggend nie, dis vir enige tyd.

Laasweek sien ek gerookte varknek steaks van Old Smoke House by Checkers. Net die regte grootte vir ’n burger en minder as R20 vir twee, so natuurlik beland hulle in my mandjie. Terug by die huis braai ek eiers in olyfolie en roosmaryn. Ek bou ’n allemintige spek-en-eier burger en maak ’n warm kersietamatie sousie/baltjang ding daarby, net om te wys ek’s nie lui in die kombuis nie. Spek en eiers met tamatiesous. Maar nie soos jy hom ken nie.

Groete tot volgende keer

Lizet

Al wat jy nodig het is…

Vir die tamatiesous
1 rooi ui, fyngekap
klein knippie droë rooirissie
1 blik kersietamaties (Woolies het)
¼t sout
draai swartpeper
2t donker bruinsuiker
½t rooiwyn asyn

Vir die burgers
4 gerookte varknek steaks (kyk uit vir Old Smoke House s’n by Checkers)
4 broodrolletjies
4 ekstra-groot eiers
vars roosmaryn
goeie olyfolie

Vir die tamatiesous: Braai die uie in ’n eetlepel of twee olyfolie. Voeg die res van die bestanddele by en kook vir vyf minute.

Sny die rolletjies in die helfte, bedruip met ’n titsel olyfolie en sit onder ’n warm rooster tot bruin. Braai die vleis in olyfolie tot gaar. Dit vat net ’n paar minute. Jy wil hom sappig hê, nie droog nie.

Vee die pan skoon, voeg twee eetlepels olyfolie in. Strooi ’n eetlepel roosmaryn in die olie, breek die eiers in die pan en braai tot hy is soos jy van hom hou. Laai die rolletjie met slaai (om eerlik te wees is dit vir my half opsioneel – sonder groen goed is ook heel gaaf), sit die spek en ’n eier op en ’n paar van die gebraaide roosmaryn-blaartjies. Bedien onmiddelik met die warm kersie-tamatiesous.

bedien

4

vooraf

2 min

kook

10 min

scroll-main

goed om te weet

Eiers – beter vir jou as wat jy dink!

Eiers is ‘n wonderlike bron van proteïne en steeds een van die goedkoopstes. Plus hulle is propvol dinge wat goed is vir jou, soos yster en vitamiene A, D, E en B12.

Hulle’s ook nie die cholesterol duiwel wat die wêreld gemeen het nie. Meeste diëetkundiges deesdae sê ‘n eier ‘n dag is sommer piekfyn. As jy meer oor eiers wil weet, hier’s ‘n wonderlike webwerf.

lekker saam met

Sê vir my eier en ek sê nege keer uit tien Chardonnay. Dis ‘n kultivar wat goed pas by romerige of ryk kos soos eiergeel. Chardonnay is geneig om aan die duur kant te wees. Die uistekendes verkoop maklik vir oor R100.

Maar dit is moontlik om goeie elke-dag Chardonnay op te tel vir onder R50 ‘n bottel. Soos KWV se Classic Collection Chardonnay.

kwv

scroll-main

Also available in: English