Die kraaie gaap hier in die Kaap. Met die kwik die laaste paar weke te dikwels aan die verkeerde kant van dertig is dinge lelik aan’t huise van Melkkos & Merlot, want sien ’n swembad die het ons nie. Dan’s daar net een genade – semi kaalbas onder die sproeier in die agterplaas. Gelukkig (miskien meer so vir my bure as vir my) is my mure hoogerig.

En as my buitekant eers koel is het my binnekant ook aandag nodig. ’n Kolossale bak roomys doen die ding. Ek’t heelwat room (op die randjie van af) oorgehad van ’n advertensie waaraan ek gewerk het vir ’n Duitse suiwelmaatskappy. Mens morsie kossie, so tuisgemaakte roomys was die antwoord. Ek’t ook bloubessies oorgehad van dieselfde joppie. So hier’s hy: my suurlemoen-en-bloubessie roomys. Vars, verfrissend, belaglik maklik en soveel lekkerder as die winkel ding.

Al wat jy nodig het is…

1.5L koue room (Pick n Pay se 1L bottels room is die beste waarde)

500ml koue melk

2¾ koppies strooisuiker

fyngerasperde skil en sap van 4-5 suurlemoene (proe en sien hoe pikant jy daarvan hou)

1 koppie vars bloubessies (gevries deug ook)

Kombineer die room, melk en 2½ koppies van die suiker in ’n groot mengbak. Gebruik ’n elektriese handklitser en klits tot goed dik – dit vat ’n hele paar minute. Roer die suurlemoensap en skil by. (Ek het suurlemoen gebruik want dis wat in die koskas was, maar ek dink lemmetjie sal selfs lekkerder saam met die bloubessie wees.)

As jy ’n roomysmasjien het, gebruik hom om jou roomys tot op ‘soft serve’ stadium te kry. As jy nie ‘n masjien het nie, doen dit die outydse manier – met jou elektriese handklitser en geduld. Sit eenvoudig die roomys in die vrieskas, verwyder en klits dit goed elke uur om enige yskristalle op te breek. Hou so aan tot die roomys dik ‘soft serve’ is. (Hierdie resep maak baie roomys, so as jy dinge vinniger wil laat vries, verdeel die mengsel in drie kleiner bakke.)

Maak intussen die bloubessiesous. Kook eenvoudig die bessies en orige suiker saam tot jy ’n lielike stroperige jêmmerige mengsel het. Verwyder en koel af in die yskas. As jou roomys ‘soft serve’ dik is, skep dit in jou opdienbak, skep die bessiesous versigtig oor en gebruik die kant van ’n paletmes om die sous in ’n fraai riffel-patroon in die roomys in te vou. Plaas in die vrieskas tot solied gevries.

Lus vir ietsie meer tradisioneel? Probeer my outyde Idealmelk roomys. Dis nes ouma dit gemaak het!

maak

3,5L

vooraf

30 min

vries

6 ure

scroll-main

Ook beskikbaar in: English