Hier van laas week af het herfs sy stem lekker dik begin maak hier in die Kaap. Die oggendlug het ’n vris byt, elke drie dae hark ek ’n hele swart sak vol eiekeblare op, en Merlot bou verwoed aan haar sagte winterpels. Sy begin soos ’n een van daai duur gewkilte pofferbaadjies lyk, veral as mens haar so van agter af kyk.

My herfs-kook is nie soos my somer-kook nie. In die somer gooi ek varktjops op die braai – met olyfolie, sout, peper, ’n skeut suurlemoensap en min anders. Maar met die koue kruip stoutigheid in. Dis tyd vir die pan ­­– met sampioene en sider, botter en room. ’n Paar baba aartappels gekook in die skilletjie en ’n groot hand bronkorsblare is al waarvoor hierdie stuitige varktjops vra.

Al wat jy nodig het is…

150g baba portabellini sampioene (loer by Woolies)
botter
4 dik varktjops
4 tiemietakkies
2 groot ongeskilde knoffelhuisies
1 eetlepel koekmeel
1 koppie droë sider (ek het Hunter’s Dry gebruik)
½ koppie vars room
seesout (Maldon is my gunsteling)
varsgemaalde growwe swartpeper
baba aartappels in die skil, vir bedien
bronkors gekus met suurlemoen, vir bedien

Verhit ’n groot pan en voeg twee eetlepels botter by. Slaan die ongeskilde knoffel hard met die platkant van ’n groot sjefmes om hulle oop te breek, maar moet hulle nie skil nie. Tuimel die knoffel, sampioene en tiemietakkies in en braai tot die sampioene begin verbruin. Verwyder en hou eenkant. Sit nog ’n lepel of wat botter in dieselfde pan, gee die varktjops ’n bietjie sout alkant en braai hulle tot gaar. (Jy soek hoë hitte hier. Die tjops moenie bleeksiel wees nie, hulle moet begin karameliseer.) Verwyder tjops en bedek met foelie.

Gooi die meel in en roer tot dit in die vet in die pan verdwyn. Gooi sider in die pan en roer goed om al daai lieflike bruin brandsels op die bodem van die pan te lig, dis pure geur! Voeg die room by en kook vir ’n paar minute sodat die meel kans het om die sous effe te verdik. Proe en wees rojaal met die sout en peper (ek het ’n hele teelepel peper bygesit want ek hou van ’n peperbyt.) Voeg die sampioene by die roomsous saam met enige vloeistof van die staan. Voeg ook enige vloeistof van die vleis se staan by die sous. Skep sous oor die varktjops en lê weg.

bedien

4

vooraf

10 min

kook

20 min

scroll-main

Also available in: English