Hierdie is nie soseer ’n resep nie. Dink eerder daaraan as ’n aankondiging in openbare belang. Want mens, nóú gaan ek vir jou ’n ding vertel. Kyk visvingers is nie ’n item wat ooit in my kosmandjie beland nie. Soos in nooit, ooit. Want Merlot is ’n kieskeurige dier en sy’t nie veel vat aan hulle nie.

So paar weke terug draai my koswêreld op sy kop en ek loop koop ’n paar honderd van die goed. Waarvoor? Vir ’n TV advertensie. Jy sal nie glo wat kosstiliste aanvang op soek na die perfekte ertjie/piesang/hamburger rolletjie nie. So is dit toe nou ook met die visvingers. Ek moes die perfekte een kry. Perfekte kleur, perfekte tekstuur, perfekte vorm. En dis net die buitekant! Binne moet hy sneeuwit wees, met perfekte vlokkies vis. Dis crazy, maar dis hoe dit is.

Bekende seekos handelsname en winkels se eie handelsname, elke enkele beskikbare soort visvinger is in my trollie in vir toets by die huis. Wat vind ek uit? I&J skop stof in die oë van die ander! En nie net bietjie stof nie mense, baie. Verbaas is ek verby want ek sluk ook die reklame en het half verwag Woolies s’n sal bobaas wees. Haikôna. En dís hoekom stilliste toets.

Op die dag verloop alles seepglad en die Duitse kliënt is happy veby oor sy ‘vingers’. Terug by die huis sit ek met ’n pakkie oor. Ja, jy kan kapokaartappels en ertjies daarby maak, geen vyfjarige gaan neus optrek nie. Maar daar’s eintlik soveel meer wat jy met hierdie verbasend handige vrieskasvriend kan doen. Ek gryp harde tacos (beskikbaar by Woolies) en slaan tjoef-tjaf ’n parmantige tartar-sous aanmekaar. Bietjie blare by en aandete is op die tafel – in minder as 15 minute. Visvingers. Nou toe nou.

Al wat jy nodig het is…

Vir die tartar-sous
1 koppie romerige mayonnaise soos Hellman’s
4E fyngekapte agurkies
2E fyngekapte kappertjies (gebottelde jalapenos werk ook)
2E fyngekapte pietersielie
4E vars suurlemoensap
1 fyngekapte huisie knoffel
2E fyngekapte sjalotte (of witui)
varsgemaalde swartpeper
Vir bedien
tacos
visvingers
radyse, dun gesny
groen blare van jou keuse

Meng al die tartar-sous bestanddele, bedek en hou in die yskas tot jy bedien. Die geure ontwikkel soos hy staan. Kook die tacos en visvingers en sit die lot op die tafel sodat elkeen sy eie perfekte visvinger taco kan bou.

bedien

4

vooraf

5 min

kook

5 min

scroll-main

Also available in: English