Wintertyd is gevaartyd. Grommerig. Dís hoe ek hier van middel Mei af voel. Vir bedruktheid is daar net een genade, ek kook. Bredies, pasteie en terte.  Gestoomde poedings, koekies en konfyte. En as mens kook, moet jy eet. Vier maande later is daar 2-3kg meer van my en dis ‘n gespook om in my fraaie lente rokke te kom.

Hierdie winter, het ek myself belowe, gaan anders wees. Ek gaan eksperimenteer met trooskos resepte wat nié die ponde aanpak nie. So toe die vriendelike mense van SABC3 se Expresso program Maandag vra of ek ’n resep kan optower wat kunsmatige versoeters gebruik dog ek wáár dan nou beter om te begin? Hier is hy: my warm sjokolade bederf wat proe en lyk of dit ’n hele boks sjokolade en vier koeie se room in het. Maar dit het nie.

Al wat jy nodig het is…

500ml laevet melk
skil van twee lemoene
piepklein knippie sout
2 tot 2½ eetlepels suiker (of die kunsmatige versoeter ekwivalent vir ‘n lae-kilojoule weergawe)
2 teelepels mielieblom (Maizena)
1½ eetlepel kakao
sap van ‘n halwe lemoen
30g sjokolade (met 70% kakao inhoud – ek het Lindt gebruik)
50ml geklopte room vir bedien (opsioneel, laat uit as jy die vetjies dophou)

Verhit die melk met die lemoenskil en suiker. (As jy kunsmatige versoeter gebruik in plaas van suiker kom dit eers later by. Verhit in die geval net die skil en melk.) Meng die mielieblom en kakao met twee eetlepels water. Voeg by die melk saam met die sout. Bring tot kookpunt terwyl jy roer. Verlaag die hitte en kook stadig vir 3-4 minute tot die sjokolade begin verdik. Voeg dan die lemoensap by.

Verwyder van die hitte en voeg die sjokolade (en kunsmatige versoeter as jy dit gebruik) by. Roer tot die sjokolade gesmelt is. Verwyder die lemoenskil (ek gooi die melk sommer vinnig deur ’n sif, dis makliker as om die stukke te probeer uitskep). As jy een het, blits die skokolade met ’n handmenger (stick blender) vir ’n paar sekondes tot skuimerig. Gooi in koppies en bedien met ’n klein skeppie room, ’n paar vlokkies gerasperde sjokolade en, sommer net vir die mooi, ’n paar repies fyn lemoenskil.

bedien

2-3

vooraf

2 min

kook

5 min

scroll-main

goed om te weet

Meksikaanse warm sjokolade

Maak die resep hierbo maar laat die lemoenskil en sap uit. Sit ‘n knippie rooi rissie by en jy’t ‘n tipies Meksikaanse warm skokolade.

lekker saam met

Bedien hierdie warm sjokolade in klein espresso-koppies aan die einde van ‘n maal in plaas van poeding. ‘n Knertsie goeie brandewyn daarby en die winter se angel is uit. Ons het ‘n oorvloed fantastiese brandewyne in Suid-Afrika. KWV is ‘n ou staatmaker met ‘n hele paar verskillendes in die stal, van hier duskant die R100 tot hoes en betaal.

Hulle 15-jaar oue brandewyn is laasjaar as die beste brandewyn in die wêreld aangewys by die International Spirits Challenge in Londen. Dis nou nie goedkoop nie, maar dink daaraan as ‘n konjak. Jy drink hom skoon en jy drink min.

KWV

scroll-main

Ook beskikbaar in: English