Hulle speel nie op plase nie. Staan ’n ding lank genoeg stil, word hy ingelê. My ma en ouma se spensrakke het gekreun onder die Consol bottels. Seker die helfte daarvan was beet, so beetslaai by elke ete was ’n onvermydelike marteling.

Gepreserveer in asyn is al hoe ek hom as kind geken het, en jy kon my nie genoeg betaal om dit te eet nie. Wat ’n jammerte. Want beet is ‘n wonderlike ding. Rou in slaaie, gerooster, in sop en, ja, selfs ingelê – want ek het uiteindelik vrede daarmee gemaak.

Beet is veelsydig en gesond verby. Ek dink jy leef drie jaar langer deur bloot daarna te kyk. Een van my gunstelinge is my warm wortel-en-beet koekies met koljander, rissie en komyn vir bietjie spesery woema. Ek bedien hulle met dik, romerige tzatziki.

Hierdie resep maak genoeg vir twee mense as vegetariese feesmaal. As jou man brom, gooi ’n stuk vleis in sy rigting. Dit sal vier bedien as ’n bykos.

Al wat jy nodig het is…

Vir die tzatziki
1 koppie ekstra dik (dubbelroom) Griekse joghurt
¼ Engelse komkommer, gewas
½t knoffel, fyngekap (jy kan meer gebruik, maar ek dink rou knoffel is ‘n aggressiewe knaap)
1E dille, fyngekap
1E ment, fyngekap
sout en growwe swartpeper

Vir die wortel-en-beet koekies
3 groot wortels, gewas en geskil
2 groot beete, gewas en geskil
½t komynsaad
1t koljandersaad
½ rooi rissie, ontpit en fyn gesny (Ek sê ‘opsioneel’, maar ek bedoel dit nie eintlik nie!)
1 eier
3E koekmeel
¼t sout
olyfolie

Maak die tzatziki eerste. Rasper die komkommer op die growwe kant van ’n rasper. Sit dit in ’n skoon doek, draai styf toe en druk dat dit bars om soveel van die komkommer se water as moontlik uit te kry. (Doen jy dit nie, gaan die water in jou tzatziki opeindig en dan sit jy met ’n loperige treurigheid in plaas van ’n romerige wonderlikheid.)

Voeg nou die komkommer by die joghurt, dille, ment en knoffel. Proe vir sout (dit het ’n knippie of wat nodig) en gee hom ’n draai swartpeper. Sit die tzatziki in die yskas sodat die geure kans kry om kennis te maak.

Rooster die heel koljander en komyn in ’n droeë pan vir ’n minuut of wat. Sodra die speserye se wonderlike geur jou neus kielie, is hulle reg. Stamp die koljander en komyn fyn. (Heel speserye wat jy self rooster is eenvoudig beter, maar as die een wat klaar gemaal is ál is wat jy in jou koskas het, gebruik dit.)

Rasper die wortels en beet op die growwe kant van ’n rasper. Gooi die koljander, komyn, rissie, eier, koekmeel en kwart teelepel sout by en meng. Vorm plat koekies en braai in olyfolie tot deurgaar en bros.

Bedien onmiddellik (terwyl hulle nog warm is) met die koue tzatziki. Die kontras in tekstuur en temperatuur is wonderlik.

Ek sit bronkors (watercress) skrikgemaak met ’n sweempie olyfolie, suurlemoen, ’n knippie seesout en swartpeper by. Vir die mooi, gooi ek ’n paar kappertjieblomme (wat ek sommer langs die pad pluk, want ek het nie in my tuin nie) by die slaai. Dis somer op ’n bord!

bedien

2-4

vooraf

15 min

kook

10 min

scroll-main

goed om te weet

Tzatziki saam met… wel, enigiets!

Die dille en ment in my tzatziki is nie tradisioneel nie, jy kan dit weglaat as jy verkies. Of jy dit insit of nie, tzatziki is ‘n wonderlike staatmaker.

Ek bedien dit by lamptjops, geroosterde hoender, as ‘n doopsous vir ‘n rou groentebord, of saam met feta om ‘n burger Griekse houding te gee. As die honger begin knaag en ek’s haastig, rooster ek pita en stop hom vol tamaties, komkommer, rooi uie, slaaiblare en feta. ‘n Groot blerts tzatziki oor die lot en middagete is reg.

lekker saam met

Jy kan ‘n Sauvignon Blanc hierby bedien. Maar hierdie is ‘n vroulike dis, so ek bly by my rooi/pienk tema en gryp ‘n rosé. Ek verkies my rosé droog.

Delaire Graff s’n (gemaak van Cabernet Franc druiwe) is perfek.

Dis salmpienk en vars en baie goeie waarde vir wat jy kry teen onder R55 ‘n bottel. Nog ‘n gunsteling is Domaine Grier se French Rosé. Kry dit by Woolies hier net onder die R60 merk.

Delaire Rosé

scroll-main

Ook beskikbaar in: English