Daar’s net een ding wat varkribbetjie (spare ribs) op die braai ore aansit – en dis lamsribbetjie op die braai. Maar mens, jy kan nou nie aldag en heeldag lam sit en eet nie. Jou dokter sal gevaarlik frons.
My ideale braai varkribbetjie is sappig en val-van-die-been af sag, maar terselfdertyd rokerig en parmantig geskroei buite. Loop sit jy rou varkribbetjie op die braai gaan hy gaar wees ja, maar nie smelt-in-die-mond sag nie. Nee, daarvoor moet jy hom éérs gaar kry en dán braai. Jy kan natuurlik winkel varkribbetjie koop wat klaar gaar is en net wag vir die braai. Maar ek’s altyd onbeïndruk. Dis of so pap gekook dat dit uitmekaar val op die braai, of dis stringerig, of daai marinade winkelsousie ding waarin dit lê en baai het ’n eienaardige chemiese kwaliteit. Nee wat, ek maak dit liefs self.
Vark is natuurlik ’n wonderlike dier. Daar’s omtrent niks wat nie by vark pas nie. Vinkel is altyd ’n wenner. So ook enigiets Oosters. Dis hier waar ek my inspirasie vir hierdie varkribbetjie resep loop kry het in die vorm van Sjinese 5-spesery, sojasous, gemmer en heuning…
Al wat jy nodig het is…
2 koppies tamatiesous
4E Worcestershire-sous
2 vet knoffelhuisies, fyn gekap
opgehoopte teelepel gerasperde vars gemmer
4t Sjinese 5-spesery mengsel (Woolworths se 5-spice blend is baie goed)
¼t gerookte rissievlokkies (ook beskikbaar by Woolies)
4E heuning
2E soja-sous
2-2.5kg varkrib
Meng al die sous bestanddele. Sit die varkribbetjie in ’n groot roosterbak en gooi twee derdes van die sous oor. Hou die orige derde sous eenkant. As jy tyd het, maak die ribbetjie toe met kleefplastiek en plaas dit in die yskas vir ’n paar uur of, beter nog, oornag.
Verhit jou oond tot 160 grade Celsius. Bedek die roosterbak met ’n dubbele laag foelie wat jy goed om die rante krimp om te verseker dis geseël. Bak tot dit sag is – dit vat so een en ’n half tot twee uur.
Plaas die gaar varkribbetjie op ’n warm braai en verf dit liberaal met die marinade wat jy eenkant gehou het. Die idee is vinnig en warm braai, want jy soek daai geskroeide hoekies om aan te knaag. Jy kan die rib heel op die braai sit, maar ek vind dit baie makliker om te hanteer as dit in groterige stukke van 3-4 ribbe gesny is. Bedien die varkribbetjie op ’n fraaie groot bord met lemmetjies vir die vars. Vir ekstra skop, bestrooi die lot met fyngekapte sprietuite, koljander en as jy wil sommer rooi rissie ook.
WENK: Jy kan die varkribbetjie klaar rooster, laat afkoel en in die yskas hou vir ’n dag of twee voor jy dit braai. Dit raak net beter met die staan en is wonderlik vir onthaal beplanning!
maak
2-2.5kg
vooraf
60-90 min
braai
15 min
Los 'n Boodskap