Keelvol. Dis so lieflike woord, en in meeste situasies van moedeloosheid heel gepas. Maar laasweek was ek genoop om sy oortreffende trap boetie – g*tvol – te gebruik. Want sien, daar was ‘load shedding’. Dis nie soveel van ’n probleem nie, ek weet mos dit kom en slim ekke het belê in ’n gasstoof. Maar toe die gas in die ganse Kaapstad opraak en ek my kampeer primus uit my muwwe spinnekop kelder moet loop haal en afstof toe, wel tóé was keelvol nie voldoende nie.
Ek moes gaste van Australië onthaal so tussen al die gesukkel deur. ’n Boer maak ’n plan en kos was daar kos. Hulle wou opsluit tradisioneel eet. Toe gee ek hulle bobotie as voorgereg. Ek maak dit fyn en fênsie in individuele filodeeg-bakkies. En ek bedien dit met outydse tamatieslaai en natuurlik Mrs Ball’s.
Toe ons aansit vra hulle my hoe dit is om in Suid-Afrika te woon. Liefies glimlag ek, steek nog ’n parafienlamp en ’n paar kerse aan en sê dis wonderlik. Want sien, mens was mos nou nie jou vuil wasgoed aan tafel nie.
Al wat jy nodig het is…
2E gewone kookolie
250g bees maalvleis
250g skaap maalvleis (of vervang met bees)
1 koppie fyngekapte uie
1¼t borrie
1t fyn gemmerpoeier
2½t medium-sterkte kerriepoeier (ek gebruik Rajah)
1 sny witbrood sonder korsies in ’n ¼ koppie melk geweek
1 sakkie goeie beesaftreksel (ek’t Woolworths se ‘Demi Glacé Concentrate Beef Stock’ gebruik)
skil van 1 suurlemoen, fyn gerasper
1t sout
¼t growwe swartpeper
4E bruin druiwe-asyn
4E appelkooskonfyt (die fyn een sonder stukke)
¾ koppie water
½ koppie pitlose rosyntjies
¼ koppie gepelde heel amandels (m.a.w sonder die skilletjie), plus 6 ekstra vir bo-op
1 koppie karringmelk (of natuurlike joghurt)
2 ekstragroot eiers
3 lourierblare, in die helfte gesny met die lengte langs
filodeeg
¼ koppie botter, gesmelt
Braai die uie in die olie tot ligbruin. Voeg die speserye by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die vleis by en braai, al roerend, tot bruin. (Voeg bietjie ekstra olie by as die pan te droog raak.)
Voeg die beesaftreksel, brood, suurlemoenskil, sout, peper, asyn en appelkooskonfyt by, asook die water. Bedek en prut oor ’n lae hitte vir 30 minute. Die water behoort alles te verdwyn en die vleismengsel dik te wees. Indien nie, kook dit eenvoudig vir ’n paar minute sonder die deksel. Voeg die rosyne en die amandels by vir die laaste 5 minute se kook. Verwyder van die hitte en laat effe afkoel.
Verf die holtes van ’n groot ‘muffin’-pannetjie met botter. Verf ’n laag filodeeg met botter en bedek met nog ’n laag deeg. Verf dié ook met botter en herhaal die proses tot jy vier lae deeg het. Sny die deegstapel in vierkante groot genoeg om 1.5cm by die ‘muffin’ pannetjies uit te steek en voer die pannetjies met die deeg. Klits die eier en karringmelk saam. Skep die filo bakkies driekwart vol vleis en skep dan ’n groot lepel van die eiermengsel bo-op die vleis. Steek ‘n halwe loerierblaar in elke bakkie en sit ’n laaste amandel op vir die mooi.
Bak in ’n 175 grade Celsius oond tot die eiermengsel deurgekook en opgepof is – 25-35 minute. Bedien dadelik met Mrs Ball’s blatjang en ’n outydse tamatie-en-uie slaai (sien goed om te weet hieronder). As jy ’n groot ‘muffin’ pannetjie gebruik, maak hierdie resep ses individuele bobotie bakkies.
maak
6
vooraf
40 min
bak
35 min
goed om te weet
Outydse tamatieslaai
Ek maak hom soos my ouma gedoen het – met ryprooi tamaties, uie, ‘n klein blerts rooiwyn-asyn, ‘n knippie suiker en ‘n knippie sout. Dis al. Los hom teen kamertempertuur vir ‘n halfuur en bedien.
As jy hierdie resep wil rek en as ligte hoofgereg bedien, sit dit voor met geelrys. As jy groot eet verkies en dink hierdie hoeveelheid vleis sal net vier bedien, skep die vleis in ‘n oondvaste bak in plaas van die filo bakkies, gooi die eiermengsel bo-op en bak tot goudbruin.
lekker saam met
Jy kan ‘n vrugtige witwyn soos ‘n Chenin hierby bedien, of ‘n Riesling sal ook werk met die ligte kerriegeure. Maar ek soek rooi, en omdat hierdie dis ‘n kerriebasis het, soek ek iets sags en vrugtig. Jason’s Hill landgoed is een van my nuwe gunstelinge. (Lees meer oor hulle hier.)
Hulle 2011 Merlot is rond, sappig, soepel en provol rooi vrugte. Dis ‘n 2014 Vitis Vinifera dubbel goue wenner. Teen onder R50 per bottel is dit absoluut uitstekende waarde.
en as hoofgereg??? en as nagereg????
Ag maak hom sommer net groter en hy’s ‘n hoofgereg! Vir nagereg beslis my ouma se Idealmelk roomys. :)