My benadering tot skemerkelkies is baie basies – ek hou van hulle klassiek en nie te soet nie. ’n Outydse ‘whiskey sour’ rev my motor. ’n Daiquiri ook. Ek het nie altyd so oor ’n daiquiri gevoel nie want sien ons verhouding het op ’n vals noot afgeskop. Harde houtbankies klewerig van ander se soet kelkies en ander dinge waaraan ek liefs nie wil dink nie, tweedehandse rook wat my twaalfuur die aand hare laat was het en ’n slushie-styl soet pienk drinkding in ’n lang glas. Wat kroegmanne ewe fênsie ’n aarbei-daiquiri noem.
Ek gaan nou miskien ’n paar mense hier vies maak, maar gaan dit tog sê: dié pienk gedoente is nié ’n daiquiri nie. Vir dit om ’n klassieke daiquiri te wees moet dit drie dinge bevat: wit rum, een of ander suur sitrus en suiker. Dis ’n kort drankie met elegante skop. Die tipe ding wat ek dink Prinses Grace in die 1950s in Monte Carlo se grênd kasino sou bestel het. ’n Daiquiri is die perfekte feesseisoen ysbreker. Bedien dit eenvoudig saam met sout-geroosterde amandels en almal sal dink jy’t tonne goue era filmsterstyl.
Al wat jy nodig het is…
3E suikerstroop (1 koppie suiker, 1 koppie water)
6E wit rum
4E vars lemmetjiesap (die een in die bottel deug nie)
8 ysblokkies
Maak die suikerstroop deur die suiker en water saam te kook tot dit ’n dik stroop vorm. Gooi dit in ’n bottel en bêre dit in die yskas vir al jou feesseisoen skemerkelkies. Om die daiquiri te maak, gooi al die bestanddele in groot glasbottel met ’n skroefdeksel. Skud dit woes vir ’n minuut of wat tot dit yskoud is. Skink in klein skemerkelkglasies, maak net seker enige orige ys beland nie in die glas nie.
bedien
2
stroop
15 min
drankie
5 min
Los 'n Boodskap