Dis miskien donkiejare terug, maar dink ek aan Sondagmiddagete by Ouma kan ek steeds die skaapboud ruik en proe. Sy’t hom lank en stadig gerooster en bitter min aan hom gedoen. Miskien bietjie sout gegee. Vandag is my benadering tot enige geroosterde vleis, nes ouma s’n, redelik minimalisties. Want ek glo as die vleis puik is, peuter mens nie te veel daarmee nie. Ek wil vleis proe, nie allerhande eksotiese ander goeters nie. Ouma het nie veel ooghare gehad vir enige ander deel van ’n skaap nie. Wat nie boud was nie, was tjops of maalvleis.
Maar mens, die blad (skouer) van ’n skaap het veel te bied. Dis ’n hardwerkende deel van die dier, dus is lank en stadig kook ’n absolute moet. Skaapblad het ’n redelike vetlagie. Jy kan dit afsny voor jy hom rooster. Ek doen nie, ek sóék daai vet. Na so drie ure in die oond het meeste van die vet uitgebraai, net die boonste lagie bly oor en dís pure krakerige kaiings. Die tipe ding waaroor mense baklei. Die vet wat uitgebraai het gooi ek nie weg nie, ek maak soos ouma en skep dit af vir later. Want eiers, boerewors of aartappels in skaapvet gebak is miskien nie vreeslik gesond nie, maar genade wat ’n lekkerte.
Ons boere hou mos van ’n sousie by vleis. By hierdie skaapblad maak ek dus een – met rooiwyn, En nie sommer enige rooiwyn nie, De Krans se Touriga Nacional. Lees laer af meer oor hierdie uitsonderlike rooiwyn en JOU KANS OM ’N BOKS DE KRANS WYN TE WEN!
Al wat jy nodig het is…
Vir die geroosterde skaapblad
2,5 kg skaapblad
5 takkies tiemie
6 takkies roosmaryn (so 7cm lank)
4 groot knoffelhuisies, ongeskil
3 groot wortels, gewas en in kwarte gesny
2 groot uie, geskil en in kwarte gesny
olyfolie
sout en growwe swartpeper
Vir die rooiwynsous
2E skaapvet
2E koekmeel
een blokkie skaapaftreksel (mutton stock), in een koppie kookwater opgelos
1 koppie De Krans Touriga Nacional (of enige ander goeie droë rooiwyn)
sout en swartpeper, na smaak
Skil een knoffelhuisie en sny dit in stukkies so dik soos ’n vuurhoutjie. Gebruik ’n dun skerp messie om diep klein snytjies in die blad te maak en druk die knoffel en die blaartjies van een takkie roosmaryn in die gleufies in. Verhit bietjie olyfolie in ’n groot pan en braai die skaapblad tot goudbruin.
Plaas die ander drie knoffelhuisies net so ongeskil in die bodem van ’n groot oondskottel (met deksel) saam met die uie en wortels en gee die groente ’n paar draaie sout en peper. Sit skaapblad bo-op, en pak die tiemie en roosmaryn om en onder die vleis. Gee die blad ’n paar draaie sout en peper, sit die deksel op en plaas die oondskottel in ’n 150 grade Celsius oond vir 3-4 ure tot die vleis van die been wil afval. (NB: daar is meer as genoeg vloeistof in die vleis en in die groente om die skaapblad sappig te kook en die basis vir ’n wonderlike sous te vorm. Die geheim is ’n lae temperatuur en ’n deksel wat goed pas.)
Sodra die skaapblad sag is, lig dit uit en bedek met foelie om warm te hou. Gebruik ’n groot plat lepel om soveel as moontlik van die vet af te skep – net die vet, nie die vloeistof nie! Skep twee eetlepels van die vet in ’n bakkie en roer twee eetlepels koekmeel daarby in. (Moenie die res van die vet weggooi nie, dit braai die lekkerste aartappels! Vet hou maande in jou vrieskas, skep uit soos jy nodig het.)
Lig die kruietakkies en groente uit die skottel. Druk die knoffel uit hulle velletjies uit en roer dit in die kookvloeistof in. Indien die skottel veilig is vir gebruik op ’n stoofplaat, plaas dit direk op die stoof. (Gooi die kookvloeistof in ’n pan indien die skottel nie gepas is vir ’n plaat nie.) Roer die vet en meel mengsel by die kookvloeistof in en gooi die wyn by. Kook op hoë hitte vir ’n minuut. Voeg dan die aftreksel by, draai die hitte laag en laat dit prut vir 5 minute. Proe vir sout en peper en pas aan soos nodig. Daar’s hy, ’n lam-en-rooiwyn sous wat jou tone sal laat krul van die lekker.
Vir bedien: Jy kan tradisioneel wees en hierdie skaapblad voorsit met aartappels en groente van jou keuse. My gunsteling is om die vleis met twee vurke te vlok en voor te sit met ’n stapel warm pitabroode, groen blare, ’n eenvoudige salsa van fyngekapte rooi ui en tamatie plus’n bakkie volroom joghurt. Gooi ’n glasie Touriga Nacional daarby, bou jou eie ideale happie en lê weg.
Vir vries: Hierdie is ideale vrieskos. Ek skep porsies gevlokte skaapvleis met sous en vries. As dinge woes besig raak gooi ek die knaap in die mikro, maak pitas warm en ete is op die tafel in tien minute. Die gevolkte vleis en rooiwynsous is ook wonderlik op vars tagliatelle of fettuccine!
Oor De Krans Touriga Nacional:
De Krans, van Calitzdorp se omgewing in the Klein Karoo, is bekend vir port en kwaliteit wyne gemaak van Portugese druifsoorte. Dit maak sin dat hulle hierop fokus, want die Kein Karoo se droë en warm klimaat is soortgelyk aan die van die Duoro-vallei in Portugal. Die Nels van De Krans plant al sedert die mid tagtigs Portugese druifsoorte soos Tinta Roriz, Tinta Amarela en Souzao. Hulle eerste Touriga Nacional is in 1994 geplant en die eerste droë rooi Touriga Nacional in Suid-Afrika deur hulle gebottel in 2000.
Ek is mal oor al hulle wyne, hulle maak eenvoudig nie wyn wat nie lekker is nie. Maar hulle Touriga Nacional veral is ’n goeie voorbeeld van die tipe kwaliteit wyne wat plaaslik van Portugese druifsoorte gemaak kan word. De Krans se Touriga Nacional is ’n gereelde wenner in wynkompetisies, en Platter het hulle ’14, ’15, ’16 en’19 oeste almal vier sterre toegeken.
Dis die mooiste dieprooi kleur. Dit ruik die ene donker bessies, viooltjies en kakao met ’n titsel witpeper ook te bespeur. Op die tong dartel kersies, sigaar en viooltjies met ’n donker sjokolade nasmaak. Hierdie is ’n komplekse wyn en ’n wonderlike pasmaat vir enige rooivleis, maar veral vir lam en wild. Teen tyd van publikasie is dit aanlyn beskikbaar teen R115. Ek dink dis bitter goeie waarde gegewe wat in die bottel is. Hierdie is nie ’n wyn wat jy oopmaak saam met springmielies en ’n fliek nie. Dis ’n ernstige wyn, ’n bederfwyn, ’n koswyn.
WEN DE KRANS WYN!
De Krans het ’n boks van hulle Touriga Nacional en Cape Ruby port-styl wyn vir een gelukkige Melkkos & Merlot leser! Besoek eenvoudig M&M se Facebook-blad, hou daarvan en jou naam is in die hoed!
bedien
8
vooraf
15 min
rooster
3-4 ure
Los 'n Boodskap