Polpette. Dis wat die Italianers klein frikkadelle noem. Vir my is ’n frikkadel by uitstek Boerekos en het baie spesifieke speserye nodig. So ek noem hierdie gewis polpette, en nié frikkadel nie.

Daar’s soveel polpette resepte as dae in die jaar. Sommige Italiaanse mammas sit kruie en knoffel by, sommige rissie. Ander hou dit eenvoudig met net neutmuskaat en swartpeper. Polpette kan op hulle eie bedien word, perfekte happies saam met iets kouds as die son sak. Of hulle kan in ’n sous bedien word. Sit brood, rys of pasta en ’n groenslaai by en skielik is dit ’n hele maal.

Meeste sousresepte vir polpette het ’n tamatiebasis. Maar ’n lui blaaiery deur een van my gunsteling ou resepteboeke In cucina con amore (circa 1971) deur Sophia Loren gee my ’n ander idee. Top aktrise en seksbom deluxe op haar dag was sy ja, maar Sophia lyk nie nes ’n gevalle engel nie, sy kook ook soos een. Sophia hou haar polpette eenvoudig, met net neutmuskaat, swartpeper en parmesaan. Wat my oog egter vang is dat sy ’n derde hoendermaalvleis by die bees gooi, en dat sy die lot kus met ’n roomsous in plaas van tamatie. Toe maak ek dit. Ek voel uitspattig meer-is-meer Italiaans en voeg ’n swetterjoel ekstra geur by my polpette. Die roomsous idee hou ek, maar die kry ook ekstra woema met lourier, knoffel en parmesaan. Ek meen Sophia sal dink dis heel gaaf.

Al wat jy nodig het is…

VIR DIE POLPETTE
500g beesmaalvleis
250g varkmaalvleis of hoendermaalvleis (ek het vark gebruik)
½t sout
4E broodkrummels
1 jumbo eier
¼t growwe swartpeper
1t fyngekapte suurlemoenskil
derde teelepel neutmuskaat
6E gerasperde goeie parmesaan of pecorino
olyfolie vir braai
VIR DIE SOUS
1 lourierblaar
1 vet knoffelhuisie, in sy skil maar met die plat kant van ’n mes geslaan om oop te breek
¼ koppie water
1½ koppies room
¼t neutmuskaat
½ koppie gerasperde parmesaan of pecorino
halwe suurlemoen
sout en peper na smaak

Meng al die polpette bestanddele. Skep gelyke eetlepels vol maalvleis en rol in klein balletjies. Braai in olyfolie tot mooi goudbriun alkant. Jy sal die polpette in sarsies moet braai, sit jy hulle almal op een slag in die pan word die olie te koud en stoom die polpette in plaas van braai! Verwyder en sit polpette eenkant.

Gooi enige orige olie uit die pan en plaas terug op die stoofplaat. Gooi die water by en kook vinnig om al daai lieflike bruin aangebrande stukkies van die bodem te lig, dis pure geur. Draai die hitte laer en voeg die room, lourierblaar en knoffel by. Kook tot dit met die helfte verminder. Verwyder die lourierblaar en knoffel. Roer die parmesaan en neutmuskaat by, proe vir sout en gee dit ’n stewige draai swartpeper. Sit die polpette terug in die pan met sous om te verhit. Gee dit ’n klein skeut suurlemoensap hier heel aan die einde. Bedien met ciabatta, rys of pasta.

bedien

6

vooraf

7 min

kook

15 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Vinnige tamatiesous vir polpette en pasta

As jy die skaal dophou en liefs ‘n tamatiesous verkies, probeer hierdie blitsige een:

Braai een ui tot sag in 4E olyfolie. Voeg twee blikke tamaties, twee gekapte knoffelhuisies, ‘n halwe blokkie beesaftreksel, 1t suiker, ‘n lourierblaar en ‘n knippie droë rissievlokkies by.

Kook vir vyf minute, verwyder die lourierblaar en gebruik jou staafmenger of voedselverwerker om dit fluweelglad te blits. Plaas terug op die hitte en roer ‘n paar eetlepels room by. Proe vir sout.

scroll

lekker saam met

Ek weet die oorhoofse ‘reël’ met kos en wyn is rooi met rooi en wit met wit. Vir my’s dit ’n bietjie oude doos. Reëls is daar vir breek en ek doen dit lustig. Ja ek weet daar’s bees in my polpette, maar daar is ook vark, én parmesaan, én room. ’n Vollerige Chardonnay is die antwoord hier en my keuse is Lanzerac se pas uitgereikte 2015 Chardonnay. Die druiwe vir hierdie wyn kom van sewe verskillende blokke, almal in Stellenbosch se Jonkershoek Vallei en almal tussen 10 en 22 jaar oud.

Nuwe eerste-vul Franse vate is gebruik, asook ouer vate wat beteken die 2015 is wonderlik volrond en romerig op die tong, sónder om klewerig en oordrewe ‘houterig’ te wees. Dis vol tog vars, met lieflike vrugte op die neus en die tong.

Die 2015 is aanlyn beskikbaar teen R105 teen tyd van publikasie, waarlik fantastiese waarde gegewe die kwaliteit. Met die feesseisoen om die draai is ’n paar bottels glad nie ’n slegte idee nie.

Lanzerac

scroll-main

Ook beskikbaar in: English