Kom dit by vla, kry jy vier soorte mense. 1) Die met vet beursies en baie geduld way regte, egte vla maak van room en eiers. 2) Die wat effe moeite doen en vla aanmekaarslaan met die poeiernommertjie en melk. 3) Die wat nie gebodder kan wees nie en die klaargemaakte een op die supermarkrak loop soek. En dan’s daar die vierde soort… 4) Die van ons wat nie net die klaargemaakte een koop nie, maar die karton oopsny as hy eers leeg is en skelm in die kombuis aan hom staan en lek. Ek’s een van daais.

My liefde vir rakvla kom ’n lang pad. Met die dat my lieflingma nie juis ooghare vir kook gehad het nie, was rakvla en geblikte perskes meestal ons poedingbederf. As tienjarige het ek gedink dis sommer heel gaaf. Veral met vanielje-roomys daarby. Ek dink steeds so. Dus was ek heel opgewonde toe Parmalat vir my hulle ‘Limited Edition’ vanielje-en-karamelvla stuur om te proe. Njam. Maar mense kom kuier nie by Melkkos & Merlot om te ontdek hoe om winkelvla oop te maak en oor perskes te gooi nie. Toe maak ek maar iets daarmee.

Die basis van baie roomys is ‘n basiese outydse eiervla. So hoekom nie rakvla ook nie? Ek gooi dit in ’n groot bak, klits dit liggies en vou styfgeklopte room daarby in. Vir kontras en ekstra karamel woema krummel ek Nuttikrust koekies ook in – ’n McFlurry se Moses. Skep hierdie roomys in fraaie suiker-roomyshorings en jonk en oud sal dink jy’s die kat se snor.

Al wat jy nodig het is…

1L Parmalat vaniele-en-karamelvla
250ml vars room
1E strooisuiker
pakkie Nuttikrust koekies

Klop die vla liggies. Klop die room styf saam met die strooiskuier. Vou die room by die vla in. Wees versigtig om soveel lug as moontlik te behou. Krummel die koekies (nie te fyn nie) en vou ook by die roomys in. Skep die roomys in jou roomysmaker en vries volgens die vervaardiger se instruksies.

As jy nie een het nie, skep eenvoudig die roomys in ’n bak wat jy in die vrieskas kan sit. Jy sal dit 4-5 keer moet roer hier aan die begin (so elke 20-30 minute) om te keer dat yskristalle vorm soos dit vries. Hierdie roomys vries solied, so verwyder dit uit die vrieskas ’n hele paar minute voor jy wil opskep. Vir perfek gevormde roomysballe, doop jou roomyslepel in warm water.

Lus vir ouma se outydse Ideal-melk roomys? Kry die resep hier!

bedien

10

vooraf

5 min

vries

4 ure

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English