Frikkadel, die woord kom kwansuis van die Franse ‘fricadelle’. Al wat ek weet is dis Boerekos by uitstek. Die kos van my kindwees.
Laat ons mekaar mooi verstaan, ’n frikkadel is nie net ’n bol maalvleis met enigiets bygevoeg en op enige manier gekook nie. Nee, vir dit om frikkadel te wees in my boek, móét hy wees soos ouma hom gemaak het – met outydse spesery in die vorm van koljander, neutmuskaat en daai baie Boerse ding, kruienaeltjies. Hy moet gerasperde ui kry en jy moet hom in die oond bak, g’n niks gepanbraai nie. En hy kry sous gemaak met, sjoe jene… Bisto.
Laasweek skryf Kathleen Odendaal en vra of ek ’n ouma frikkadel resep het. Ek kry tonne versoeke vir resepte en hulle’s almal op die lys vir as ek kans kry, maar hierdie’s hartskos. Dadelik snuffel ek ouma se verflenterde handgekrabbelde boekie uit, roep Merlot vir geselskap en sit my voorskoot aan.
Ma en ouma het frikadelle bedien met rys en murgpampoentjies gevul met ertjies, ’n klontjie botter bo-op vir die stout. Dis heel gaaf, maar so oude doos as flennie-pajamas met kant om die mou.
Ek vervang die rys/murgpampoentjie gedoente met fluweelgladde oranje soetpapat. Die ertjies mag bly, maar ek voeg ook byderwetse ertjieblaartjies by en, net vir die mooi, parmantige beet spruitjies. Dis oumakos vir nou.
Al wat jy nodig het is…
¼ koppie melk
ekstragroot knip witpeper
¾t koljander
½t neutmuskaat
ekstragroot knip kruienaeltjies
1t sout plus nog ’n ekstra groot knip sout (einaardig ja, maar dit het daai ekstra leksel sout nodig!)
2 snye witbrood, korsies afgesny
800g bees maalvleis (een met bietjie vet in, nie maer nie)
½ koppie witui, gerasper nie gekap nie
3E gesmelte skaapvet (wat ouma ‘dripping’ genoem het, jy kan dit uitlaat maar dit sal jammer wees)
½ koppie water
botter
’n Goeie frikkadel is ’n veerligte krummelrige knaap, nie ’n digte affêre wat swaar in jou maag loop lê nie. Wat’s die geheim? Feëtjie vingers. Kyk, ek’s nie skaam om my hande in kos te steek nie, 90 persent van die tyd gee dit die beste resultate. Maar nie as dit by frikadelle kom nie. Aan hom wil jy so min moontlik peuter en dit liefs met ’n vurk. Hier’s hoe: Gooi die speserye en sout by die melk. Week die brood daarin tot al die melk opgesuig is. Maak die brood met ’n vurk fyn en voeg dit by die maalvleis, skaapvet en ui. Meng liggies deur met die vurk. Liggies mens, maak of jy Tinkerbell is en jy’s op die regte spoor.
Smeer die bodem van ’n oondvaste bak met botter (ouma se Pyrex-bak is perfek hiervoor). Gebruik jou hande (ja, nou mag jy) en vorm liggies frikadelle. Die puntenerige kosstilis in my steek haar kop uit hier en ek gebruik my elektroniese kombuisskaal om perfekte 100g frikadelle te maak. Sit die frikadelle in die oondbak en plaas ’n klontjie botter bo-op elke frikkadel. Gooi ’n halwe koppie water in die bak en bak teen 190 grade Celsius vir 35-40 minute. Skep halfpad deur van die vloeistof in die bodem van die bak op elke frikkadel. As die water te min raak, gooi nog bietjie by. (Nota: ouma het frikadelle vir ’n uur of meer gebak tot hy behoorlik dood is. Dis nie my styl nie, maar dis miskien joune.) Sit jou rooster aan vir die laaste paar minute om die frikkadelle mooi bruin te kry, maar hou dop dat jy hom nie brand nie.
Verwyder die frikadelle en maak hulle toe met foelie om hulle warm te hou. Voeg ’n koppie water by die kookvloeistof in die oondbak (gebruik ’n pan as die bak nie op die stoof geplaas kan word nie). Maak die sous deur een teelepel Maizena en een teelepel Bisto in bietjie water op te los en by die kookvloeistof te roer. Kook hom tot hy verlydelik glansend is. Ja, ek weet fênsie kokke gaan mor oor die Bisto, maar dis hoe ouma dit gemaak het.
Hierdie resep maak 10 x 100g frikadelle. Dis ook heerlik saam met outydse tamatieslaai. Sien Goed Om Te Weet hieronder vir hoe.
maak
10 x 100g
vooraf
15 min
kook
50 min
goed om te weet
Outydse tamatieslaai
Hier’s hy, tamatieslaai op sy heel eenvoudigste soos ouma hom gemaak het:
Sny 3 groot ryprooi tamaties (of 250g klein kersietamaties) en ’n paar ringe pers uie. Ouma het wit gebruik, want pers was daar nie. Gooi een eetlepel rooiwynasyn oor, ’n paar stewige knippe sout en ’n teelepel suiker en laat die lot vir ten minste ’n halfuur staan. Roer deur en bedien.
lekker saam met
Vier ons koserfenis met iets spesiaals in die glas soos Babylonstoren se 2014 Shiraz. Dit het die Top 12 gemaak in die 2016 SA Shiraz Toekennings. Die wyn is propvol kersie, pruim en donker vrug. Dis vol en rond met ’n einde wat lank op die tong dartel.
Hoekom hierdie wyn? Want die aanlyn kelderprys is net R150. Fantastiese waarde as jy dink meeste van die ander Top 12 is ver oor die R200. Welgedaan Babylonstoren!
Goeie dag.
Ek het die resep gemaak en almal was gek oor die frikkadele. Baie dankie, dit is werklik ‘n ma en ouma resep dié.
So bly jy’t geniet Buks. :)
Love jou blad. Dankie. Awesome wenke. Ek het n fussy skoonseun wat kos aanbetref, maar ek gaan hom nog convert. Ten spyte vd feit dat hy n mielie boer op Ofcolaco is hier in die Verre Noorde eet die man maar min groente.😂. Hulle verskaf butternut, boontjies, baby marrows en suiker mielies aan Woolwoths. Ek het n heerlike knoffel soetpatat resep wat ek met jou kan deel as jy sou belangstel. Weereens dankie.
Verleidelik
Dit is báie soos ek my frikadelle maak – ek sit net nie die naeltjies en nutmeg by nie – gaan beslis dit volgende keer doen! Kathleen Odendal – het sy dalk in Vanderbijlpark groot geword? Daar was ‘n meisie saam met my op skool met dieselfde naam en van – sou so graag met haar wil kontak maak
Beste Raad ooit … ‘Feëtjie vingers’ vir ‘n great tekstuur! My Frikadelle was beter as ooit en lekker los. :)
Hi,
My mond water klaar maar waar kry ek skaapvet (Dripping)?
Ek voeg soms ‘n gerasperde groen appel by frikkadelle. Dit gee ‘n heerlike geur sonder dat mens weet waar dit vandaankom.
Dankie
Goeie idee die appelstorie. Gaan dit beslis probeer! Ek maak my eie ‘dripping’ – ek vra die slagter vir skaapvet en braai dit uit to ek met vet sit en natuurlik kaiings. As jy ‘n goeie slagter het, vra hom. Hulle het meestal varkvet en skaapvet.