Somer, in wat toe nog die Transvaal was, was my gunsteling seisoen as kind. Nie net omdat dit swemtyd, waatlemoentyd en vakansietyd was nie, maar omdat dit reëntyd was. In ons huis het dit net een ding beteken – pannekoek.

Ek weet nie waar my ma aan die reën/pannekoek ding gekom het nie. Vandag hoef ek gelukkig nie meer te wag dat die hemele open voor ek my kleefvrye pan nader trek nie. En hoekom dan nou nie? Dit kos onder R10, dis vinnig en dis die lekkerste lekker. Sommer baie het geskryf en gevra, so hier’s hy: my kannie-flop resep vir papierdun pannekoeke. Of as jy nou grênd wil wees, crepes.

Al wat jy nodig het is…

¼t sout
¼t bakpoeier
1 koppie meel
1¼ koppie melk
2 eiers
1E water
gewone kookolie
kaneelsuiker (meng eenvoudig suiker en kaneel)
suurlemoen

Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Meng geleidelik die melk by terwyl jy klits. Voeg dan die eiers en water by en klits goed om seker te maak daar’s geen klontjies nie. (Wenk: as klontjies ’n vreeslike probleem is, gooi eenvoudig die lotjie deur ’n sif.) Verhit ’n kwart teelepel olie in ’n kleefvrye pan (ek weet hy’s kleefvry, maar ek gee hom so af en toe olie). Skep ’n groot lepel beslag in die pan en skommel die pan effe om seker te maak die beslag bedek die hele pan. (As jy vind die beslag is te dik, roer nog ’n lepel water by.)

Kook die pannekoek vir ’n paar sekondes tot ligbruin, draai die pannekoek om en braai aan die ander kant. Herhaal met die res van die beslag. Sit voor met die kaneelsuiker en skyfies suurlemoen.

bedien

12-14

vooraf

5 min

kook

20 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

Nog idees vir pannekoek
  1. Vervang die kaneelsuiker met heuning. ‘n Skoot suurlemoen by en hy’s reg.
  2. Maak sjokoladepannekoek deur ‘n halwe eetlepel kakao by die meel te voeg. Smeer Nutella op die pannekoek en vou of rol op. Sif bietjie versiersuiker oor vir die mooi en bedien met ‘n skyfie of twee lemoen. Lemoen en sjokolade is mos ou pêlle.
  3. Smeer ‘n dun lagie goeie aarbeikonfyt op en bedek met ‘n paar vars gesnyde aarbeie. Vou en sit voor met warm sjokoladesous en ‘n skep vanieljeroomys.

lekker saam met

By pannekoek soek ek properse koffie. Nie daai krummel/poeier goete wat in blikke kom nie, koffie gemaak van bone. Daar’s nie baie dinge waaroor ek my lyf snob hou nie, koffie is een van hulle. Gaan loer in by Checkers. Hulle het ‘n hele reeks koffiebone van uitheemse plekke soos El Salvador, Guatamala en Kolombië. Mens is veronderstel om die verskil te kan proe.

Winter kom, so koop ‘n paar verskillendes en hou ‘n pannekoek en koffie ‘tasting’ dag voor ‘n knetterende vuur.

Koffiepot

scroll-main

Ook beskikbaar in: English