Lizet Hartley

Kombuispret met Merlot

My ma was ’n pragvrou, fynbesnaard en kunssinnig. Maar sit jy haar in ’n kombuis, het sy soos ’n koedoe in hoofligte verstar. Met die gevolg dat ek op 18 nie ’n eier kon kook nie. Olyfolie was ’n ding wat mens by die apteek gekoop het, in sulke plastiek medisynebotteltjies. My tannie het dit net so skoon in my niggies se kele afgedwing het om hulle puisie-tienervelletjies uit te sort. Ek ril steeds. En Aromat was die enigste ding wat jy in jou bauernmalerei speseryrakkie nodig gehad het, buiten sout.

So, heeltemal onnosel, het ek my kosreis aangepak. Ek’t gekook, geproe en, wanneer ek die sente bymekaar kon skraap, klasse geloop. Maar, meeste van als, het ek gelees. Want sien, as jy kan lees, glo ek jy kan kook. Ek bedoel nou nie Michelinster kos nie. Nee genade. Myne is Sommer Net Kos.

Hartskos, trooskos, maklike kos en, baie belangrik vir my, GOEDKOOP KOS. Want ek’s mos ’n bietjie goedkoop. Nie rooi lip/hoë hak/Seepunt Main Road goedkoop nie. Liewer die soort goedkoop wat R60 tekkies by Pep koop en kinderlik opgewonde raak oor ’n twee-vir-die-prys-van-een spêsjil op pampoen.

Soveel as wat ek hou van ander se resepte lees, hou ek nog meer van eksperimenteer. ’n Regte ‘wat as’ kok. Wat as mens pizzadeeg maak, maar bietjie bruinmeel bygooi in plaas van net wit? Wat as mens bokmelk cheddar opsit in plaas van net mozzarella? En wat as mens roketblare, blinkgemaak met net ’n titsel okkerneutolie vinaigrette, oorstrooi? En sommer ’n paar geroosterde okkerneute ook. Sal dit lekker wees?

merlot die madam

Puntenerig, fyn en elegant, Merlot het sommer baie airs en graces. Sys’ mal oor...
  • Biefstuk
  • Vlinders vang
  • My ignoreer

Merlot

Ek weet nie. Dan sit ek my voorskoot aan en roep Merlot, my mal swart kat wat ek by die SPCA in Grassy Park gaan red het, om my geselskap te kom hou. Sy’t nogal baie attitude vir so ’n klein dingetjie – waardeer duidelik nie hoe gelukkig sy was toe ek haar swart gevreetjie uit die vyftig of wat ander oulikes gekies het nie, looppensie en al. Saam-saam kook ons dat dit klap in ons klein Kaapstad kombuisie. My ouma se plaashoederpastei en souskluitjies. Haar perskeblaarvla en Idealmelk roomys wat ek na skool op haar agterstoep in die yl hoëveld wintersonnetjie verorber het. Maar ook ander goed. Fênsie Franse disse, want ek’s effe kens oor Frankryk. En kos wat lyk asof ek ure agter die kospotte gesloeg het, terwyl ek eintlik net ’n paar goed in ’n pot gegooi het en lipstif gaan aansit het. So Nigella-styl ‘glam’ (ek probeer), maar met smaller heupe.

Ek’s ’n vryskut resep ontwikkelaar, kosstilis en fotograaf. Melkkos en Merlot is my blog baba, my plek waar ek kan speel en nuwe resepte en ou gunstelinge deel.

Warm kombuisgroete
Lizet (en Merlot) Hartley