Met die dat ek nie dom is nie, sê ek nie sommer nee as ’n bottel aan my deur kom klop nie. Soos laasweek, toe die mense van die La Motte wynlandgoed twee fraai bottels van hulle konfyt oorstuur vir my om te proe. Konfyt is half te eenvoudig ’n woord vir die interessante konkoksies uit hulle plaaswinkel. Dink aarbei, suurlemoengras en gemmer. Sjoe. Of koemkwat met warm speserye en wyn. Konfyt met wyn? So bek moet jêm kry.

Fênsie konfyt vra natuurlik vars brood, warm uit die oond. Die 7-dae-oue winkelbrood in my yskas het nie juis my hart op hol gehad nie. Ek wou my nog in die ding inpraat, maar die Franse verdigris-groen mufkolle was net te erg. Brood moes ek bak. Dis natuurlik baie minder moeite om te bak as om in die kar te klim en te loop koop. Nee, rêrig, dit is – mits jy nie met gis gaan sukkel nie.

Kyk ek’s mal oor gis. Dis tog gis wat druiwesap in wyn verander. En verantwoordelik is vir die wonderlikste stylselrige verleiding – van ciabatta tot croissante, baguette tot brioche. Maar soos meeste goeie dinge in die lewe, vra gis tyd.

Die oplossing? Sodabrood. Die Iere sê sodabrood is hulle s’n. Maar dit word donkiejare al wêreldoor gemaak, met effense verskille hier en daar. Wat is sodabrood? Brood gemaak met koeksoda (die rysagent) en een of ander suur soos die tradisionele karringmelk of joghurt (om die koeksoda te aktiveer). Vandat jy jou voorskoot aansit tot jy aansit vir smul is minder as ’n uur. Met die dat daar nie gis, rys of ’n geknie is nie, is sodabrood heel anders as gewone brood. Die tekstuur is krummelrig, soortgelyk aan die van ’n botterbroodjie. Dis beste warm uit die oond met ’n onbeskofte dik laag plaasbotter.

Hou jy dit tot die volgende dag is dit beter om dit in roosterbrood te verander vir ontbyt. Met die dat die tekstuur my aan botterbroodjies herhinner, verkies ek iets soets daarop. Dink piesangs gekarameliseer in botter en esdoringstroop met ’n skeppie crème fraîche vir die stout. Of roosterbrood met soet vanielje-maskarpone en vars ryprooi aarbeie (wat jy met suiker besprinkel en vir ’n uur laat staan totdat hy stroop trek). Nou praat jy mos. Sodabrood – so maklik my kat kan dit maak.

Al wat jy nodig het is…

275g bruinmeel
175g wit broodmeel
1t suiker
1t koeksoda
1t sout
1E yskoue botter, in klein blokkies gesny
300-350ml karringmelk
ekstra meel vir strooi

Voeg al die droë bestanddele saam in ’n groot mengbak. (Omdat hierdie brood so eenvoudig is en daar nie gis is om agter weg te kruip nie, wou ek baie goeie meel gebruik. Ek het Eureka Mills se ongebleikte steengemaalde meel gekies. Dis te koop by alle groot supermarkte.)

Voeg die botter by die meel en vryf dit liggies met jou vingerpunte tot die botter ingevryf is en jy dit nie meer kan sien nie. Voeg nou die karringmelk by. Hoeveel jy nodig het, hang af van baie dinge, insluitend die soort meel wat jy gebruik. Begin dus met 300ml en voeg die res bietjie vir bietjie by indien nodig. Die deeg moet sag en hanteerbaar wees, maar nie klouerig en nat nie. Meng deur met ’n groot vurk of jou vingers. Tip die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak en druk ’n paar keer tot die deeg bymekaar kom en glad lyk. Jy wil nie hierdie deeg oorwerk of knie nie.

Vorm die deeg in ’n bal en plaas op ’n meelbestrooide kleefvrye bakplaat. Druk dit plat (so 5cm dik) en sny ’n diep kruis daarin met ’n skerp mes. Strooi meel op en bak teen 200 grade Celsius vir 40-45 minute tot bruin en deurgaar. Die sodabrood is gaar as jy die onderkant met jou kneukel klop en dit hol klink. Hierdie brood is definitief op sy beste warm uit die oond.

WENKE: 1) Sodrabrood is ’n wonderlike neutrale basis om mee te speel. Voeg speserye of droë kruie by as jy dit by sop gaan bedien. Voeg neute en rosyne by, of selfs kaas. 2) As jy dit soet verkies, voeg meer suiker by. 3) As jy dit witter verkies, vervang van die bruinmeel met wit broodmeel.

maak

1 brood

vooraf

10 min

bak

40-45 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English