Somer in Kaapstad is altyd so ’n maand agter die res van die land, maar uiteindelik is die dame hier en kan ek die donskombers wegpak. Die seisoene beïnvloed definitief hoe ek eet. In Julie as die hemele hier oopmaak hang my tong uit vir bredie. Nou soek ek lig, gesond en kraakvars – ek soek slaai. Maar nie sommer énige slaai nie, interessante slaai. En as dit die hoofmaal gaan wees en nie ’n bykos nie móét daar proteïne in wees of ek gaan dit nie maak tot die volgende maaltyd nie!
Die inspirasie vir hierdie hoenderslaai is Tashas se Chicken Crunch Salad. Tashas by die Waterfront is my gunsteling restaurant vir ’n ligte middagete so op my eis die rare kere wat ek myself bederf met bietjie ‘retail therapy’. Dié hoenderslaai van hulle het ’n witkool basis, mens sou nie dink dit werk nie maar dit dóén. Die rokerige tahini en hope suurlemoengeur daarvan is fantasties. Toe loop koop ek ’n bottel tahini en begin speel. Hier’s my weergawe van Tasha se hoenderslaai.
’n Glas yskoue Sauvignon Blanc is die perfekte pasmaat vir die suurlemoengeure van hierdie hoenderslaai. Sien my wynkeuse uit die wonderlike Tulbagh-streek laer af.
Al wat jy nodig het is…
VIR DIE TAHINI-JOGHURT
175g bakkie dubbelroom gewone joghurt
1t tahini
derde teelepel sout
skil van een suurlemoen, so fyn as moontlik gerasper (gebruik ’n Microplane)
1t suurlemoensap
VIR DIE SLAAISOUS
1E olyfolie
1E gewone olie
kwart teelepel sesamolie
1t heuning
kwart teelepel sout
3E suurlemoensap
kwart teelepel varsgemaalde swartpeper
VIR DIE HOENDERSLAAI
1 heel mielie (of ’n halwe koppie gevriesde mielies)
handvol dun groenbone
6 radyse
1 groot sprietui
kwart koppie gevlokte amandels
3 koppies fyngekapte witkool
1-2 groot hoenderborsies sonder vel
1E botter en 1E olie, vir braai
sout en swartpeper
skyfies suurlemoen, vir bedien
Maak die souse eerste. Vir die tahini-joghurt meng eenvoudig al die bestanddele saam en plaas in die yskas. Plaas al die slaaisous bestanddele in ’n bottel met deksel en skud dit goed. (Leë konfytbottels is ideaal vir slaaisous maak!)
As jy ’n heel mielie gebruik, kook dit in bietjie water vir so tien minute tot gaar. Laat effe afkoel en gebruik ’n skerp mes om die mieliepitte af te sny. (Ek hou daarvan om die mielie bietjie met my blaasvlam te klits voor ek dit sny vir ’n ekstra lieflike rokerigheid. In plaas van ’n blaasvlam kan jy ook die mielie oor die vlam van ’n gasplaat hou vir ’n paar sekondes.) Indien jy gevriesde mielies gebruik is ’n paar minute in kookwater al wat hulle vra.
Kook die groenbone vir net so ’n minuut, dreineer in ’n vergiettes en plaas hulle onmiddelik in ’n ysbad – gewoon koue water en hope ys. Dit help om die heldergroen kleur te set. Sny die radyse dun en plaas hulle ook in die yswater. Sny die sprietui in baie dun stroke van so 5cm lank en ook hulle moet yswater toe. Binne net so ’n minuut of wat sal hulle pragtig begin krul. Rooster die amandels tot ligbruin in ’n skoon kleefvrye pan oor medium-lae hitte – skud die pan dikwels sodat die neute nie brand nie.
Tyd vir die hoender. Hoenderborsies kan sommer maklik goor droog wees. Een van my geheime vir sappige borsies is om hulle dun te sny en vinnig oor baie hoë hitte te braai. Sny die hoenderborsies met die lengte langs in die helfte. Gebruik ’n koekroller om die hoender liggies dunner te slaan. Geur hoender liggies met sout en swartpeper.
Verhit ’n groot kleevrye pan met ’n eetlepel olie. Voeg die hoender en die botter by en braai aan albei kante tot net-net gaar. (Die botter help dat die hoender nie bleeksiel goor lyk nie.)
Tyd om die hoenderslaai aanmekaar te slaan. Skep die tahini-joghurt in die middel van ’n groot bord en gebruik die agterkant van ’n groot lepel om dit mooi uit te sprei na die kante van die bord. Meng die kool met die slaaisous. Rangskik die hoenderborsies aan die een kant, dan ’n groot homp kool en die res van die bestanddele. Strooi amandels oor en bedien met skyfies suurlemoen.
bedien
2
vooraf
20 min
kook
20 min
goed om te weet
Ontdek tahini
Tahini of tahina word gemaak van geroosterde sesamsade. Die geur is aards met ’n effense bitter noot. Dis ongelooflik veelsydig vir soet en sout geregte.
Eksperimenteer bietjie!
Voeg dit by kekerertjies met olie, sout en suurlemoen en jy’t hoemoes. Voeg dit by rooiwynasyn, olyfolie, ’n knip sout en heuning en jy’t ’n wonderlike effe anderse vinaigrette. Dis aan die duur kant hier by R100 vir ’n groterige bottel maar mens gebruik bitter min op ’n slag en dit hou baie lank in die yskas. So skaf ’n bottel tahini aan, dis die moeite werd!
my wynkeuse
Die Tulbagh-wynstreek is nie noodwendig die eerste ding waaraan meeste mense dink nie, maar hierdie geweste het hope om te bied – vanaf sakpas elke-dag wyne tot uitstekende premiumwyne wat met hope medaljes pronk.
Theuniskraal se Sauvignon Blanc is ’n lieflike midpryspunt pasmaat vir hierdie ongewone hoenderslaai. Op die neus is daar aspersie, tropiese vrugte en ’n titsel groen gras. Elegant en kraakvars, net reg vir die somer.
Dankie vir ‘n fantastiese resep! Vrydag warm middag in JHB uitgesorteer. Njum xxx
Dankie Adele, hoop julle geniet. Dis koelerig in die Kaap vandag. Ek sit met ‘n trui…
Ek gaan hom verseker probeer, daar is altyd n bottel of twee Sauvignon Blanc in my yskas en ek glo hy en die slaai gaan ontmoet! Hoop net om Tahini in die plattelandse bosveld dorpie op te spoor?
Sterkte! Die tahini maak regtig ‘n groot verskil. Maar net met die suurlemoenskil in sal dit steeds lekker wees dink ek.
So lekker om weer van jou en Merlot te hoor. Dít lyk lieflik! My mond water sommer. Tans sit ek met drade op my tande en kan nie slaai gekou kry nie, maar hierdie is beslis op my lys vir wanneer hierdie goed uiteindelik afgehaal word. Lekker.
Good luck met die tande. Hoop jy geniet hierdie slaai as jy uiteindelik weer mag!
Net toe ek dink dat jy en Merlot van die aarde verdwyn het, duik daar weer ‘n nuusbrief op! Wonderlik, en sommer ‘n gawe resep daarby! Moet tog asseblief nie wegraak nie!
Dankie Martha!
Het jou geselsie en resepte gemis. Groetnis van California af!
Dankie Thea
Wow absoluut amazing! Waar is die beste plek om Tahini te koop.