Potbrood is so Suid-Afrikaans as Boeremusiek en biltong. Hierdie resep vir ’n soet potbrood is so eenvoudig mens kan dit nie juis ’n resep noem nie. Dis ook nie my ‘resep’ nie – soveel mense ken dit, hierdie knaap is volksbesit. As hierdie soet potbrood nog nie in jou Boerekos repertoire is nie, hier is hy.

Al wat jy nodig het is…

2E botter
1kg winkel brooddeeg (Shoprite en Checkers se bakafdelings het gewoonlik)
1 koppie bruinsuiker
1 koppie room (vars of geblik)

Smeer die bodem en kante van ’n swart yster broodpot mildelik met botter. Vorm klein balletjies deeg (so 4cm in deursnit) en pak hulle in die pot 3cm van mekaar af. Sit die deksel op die pot en plaas eenkant vir 30-40 minute om te rys. (As dit somer is, rys dit vinnig, in die winter sal dit sowat ’n uur vat om te rys.)

Klits die suiker en room liggies en gooi dit oor die deegballe. Sit die deksel op en sit die pot op die vuur vir 45 minute. As jy dit op ’n ketelbraai sit, sit die deksel van die braai ook op. As dit op ’n oop vuur is, gooi ’n paar kole op die pot se deksel. Jy kan hierdie ook met die deksel op in die oond bak teen 180 grade Celsius. As jy dit in jou oond bak, kan jy ’n emaljepot gebruik. Vir die vuur het jy gewis ’n ysterpot nodig.

maak

1 brood

rys

40 min

bak

45-50 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English