Kerkbazaar was ’n kalender hoogtepunt toe ek kind was. Soveel om na uit te sien. Pannekoek, nuwe klere vir my fake Barbie (’n regte een was te duur), gehekelde booties vir my fake First Love pop (fake vir dieselfde rede as die Barbie), flou kerrie en rys… En dan was daar die dag se kulinêre hoogtepunt – bazaarpoeding. Dat jellie gemeng met geklitse Ideal-melk nou soveel vreugde kon gee. Toe ’n vriendin oor ’n bord Oukersaand-pasta van bazaarpoeding praat, dink ek vir die eerste keer in dekades daaraan, en besluit dis hoogtyd dat ek dié kindervreugde optel en afstof vir ’n nuwe era.
Die Ideal-melk bly, maar in plaas van pakkie jellie (wat eintlik niks anders as soetigheid bied nie) maak ek ’n intense framboos puree. Ek vou dit in die yskoue geklitste Ideal-melk in saam met ’n paar velletjies gelatien. Wat uitkom na twee ure in die yskas is ligpienk en veerlig, die perfekte smelt-op-die-tong poeding vir warm somermaande. Omdat Ideal-melk redelik min vet bevat is hierdie ’n wenner as die skaal te swaar trek na Kersfees. Vervang die suiker met Xylitol as jy wil en dan kan jy amper daaraan dink as gesond…
Al wat jy nodig het is…
1 x 380g blikkie Ideal-melk
2 koppies bevrore frambose
½ koppie water
¾ koppie suiker
5 velletjies gelatien (beskikbaar by Woolworths)
Verkoel die Ideal-melk tot dit yskoud is. Sit die frambose, water en suiker in ’n kastrol en kook dit vir vyf minute. Gooi dit in jou versapper of voedselverwerker en blits tot dit ’n gladde puree is. Gooi die puree deur ’n sif om die pitjies te verwyder. Laat die puree afkoel tot kamertemperatuur. NB: Skep ’n halwe koppie van die puree uit en hou dit eenkant.
Week die gelatien in ’n bakkie koue water vir 5-10 minute. Druk dan die gelatien velletjies liggies in jou vuis om die water te verwyder. Plaas die gelatien velletjies in ’n klein bakkie en gooi 3 eetlepels baie warm water oor. Roer tot die gelatien opgelos is – dit vat net ’n paar sekondes. Roer nou die gelatien by die framboos-puree (die halwe koppie wat jy uitgeskep het bly eenkant vir later). Klits die koue Ideal-melk in ’n groot bak tot dit dik, lig en skuimerig is. Vou die framboos-puree wat die gelatien bevat in en roer liggies deur. Skep die mengsel in ’n groot bak of individuele glase. Bedek met kleefplastiek en plaas in die yskas tot dit geset it.
Bedien hierdie framboos-bazaarpoeding met ’n goeie leksel van die framboos-puree wat jy eenkant gehou het. Hierdie bazaarpoeding kan ook met vars frambose gemaak word in plaas van gevries. Aarbeie, vars of gevries, werk ook wonderlik.
bedien
6-8
vooraf
20 min
verkoel
2+ ure
Dit klink heerlik gaan beslis probeer. Ek is bly ek was nie die enigste met ñ fake Barbie nie; ek het nou so lekker gelag.