Enige halfpad entoesiastiese kok wéét, die verskil tussen goed kook en fantasties kook is sous. Tot dusver het ek souse bietjie afgeskeep in my M&M kombuis. Dis hoogtyd om iets daaraan te doen. Heel eerste aan die beurt? ’n Properse karamelsous, want hier aan die einde van week vier van die groot Covid-opsluit dink ek ons verdien almal ’n leksel soet vir die siel.
Ek gebruik die woord ‘properse’ met opset, want sien soveel aanlyn-resepte vir kastige karamelsous is alles behalwe. Ja hulle gebruik wel suiker, room en botter – die basis van ’n karamelsous, maar die tegniek van menige resep is verkeerd. Neuk die spul saam in ’n pot, kook dit vir vyf minute en jy het weliswaar ’n liplekker sous waaroor veral kinders vrek – maar dis ’n botterkaramelsous (butterscotch). Dis een-dimensioneel en sonder die diepte van karamelsous. ’n Egte karamelsous vra dat jy begin met ’n… karamel! Dit beteken suiker wat jy kook tot dit ’n warm amber kleur het.
As jy al ooit suiker probeer smelt het om karamel te vorm weet jy die lys van dinge wat verkeerd kan gaan is lank. Suiker wat nie alles smelt nie; kristalle wat vorm, karamel wat oneweredig kook en in plekke swart brand met die gevolglike aaklige bitter. Wel, hier’s ’n kannie-flop manier van karamel maak. Ons vat ’n ompad so dit neem bietjie langer, maar ek waarborg jy sal nie met jou suiker sukkel nie.
Al wat jy nodig het is…
1 koppie witsuiker
derde koppie water
halwe koppie vars room
1 opgehoopte eetlepel koue botter, in klein blokkies gesny
gesonde knip sout
paar druppels goeie vanielje-ekstrak
Sit die suiker en water in a medium-groote, dikbodem kastrol. Plaas op medium-hoë hitte en roer totdat die suiker heeltemal opgelos is. Kook sonder die deksel vir 10-15 minute. Die water het tyd nodig om te verdamp en die suiker om te karameliseer. (Die gevaarliker, vinniger metode is om dit sonder die water te doen.) Suikerkristalle sal gedurende die kook op die kant van die kastrol vorm en dis nodig om daarvan ontslae te raak anders sit jy met ’n sous wat nie fluweelglad is nie. Gebruik eenvoudig ’n kwassie in water gedoop om die kante van die pot mee af te was sodra jy kristalle gewaar. Dit kan nodig wees om dit meer as een keer te doen.
Hoe donkerder die karamel, hoe meer intens en kompleks die smaak. Daar is egter ’n punt waar dit te donker word, en dan’s dit brandering goor. Ek haal my karamel van die hitte af sodra dit ’n diep amber/ligte roeskleur is. Roer die room by – dit sal gevaarlik opborrel so moenie skrik nie. Roer dan die botter by, voeg die sout by en die vanielje en die sous is klaar. Dit sal dun lyk terwyl dit warm is, maar verdik soos dit afkoel. Sodra dit afgekoel is, plaas in ’n bottel en hou in die yskas tot jy dit gebruik. Jy kan die sous teen kamertemperatuur of koud bedien.
Hoe gemaak met karamelsous?
• Gooi dit oor roomys
• Blits melk, room, karamelsous en ysblokkies saam vir ’n karamel-smoothie
• Gooi dit oor pannekoek, plaatkoekies en wafels
• Bedek kaaskoek met ’n laag karamelsous en bestrooi liggies met vlokkies Maldon seesout vir ’n blitsvinnige soutkaramel kaaskoek!
• Gebruik dit om koeklae saam te plak
• Bedien dit by gebakte appels met roomys
• Rooster ’n sny brioche-brood, smeer karamel oor en bedek met piesangsnye en gekapte okkerneute vir ’n stoute bederf-ontbyt!
• Roer ’n lepel of wat by ’n glas warm melk
maak
250ml
vooraf
0 min
kook
20 min
Los 'n Boodskap