Die ding met baie tyd in die kombuis spandeer, is dat dit nogal alleen kan raak. Merlot is ’n verbale kat weliswaar, maar aangesien ek nie ‘kat’ praat nie, kan en nou nie juis sê ek vind haar konstante geselsery boeiend nie.
So toe Nina Timm van My Easy Cooking my uitnooi om saam met haar te kom kook was ek nogal opgewonde. Nie net ’n méns om mee te praat so oor die kook nie, maar Nina Timm van alle mense. Kosstilis, fotograaf, RSG aanbieder, resepontwikkelaar – Nina doen dit als en nog veel meer. Sy’s ‘laid back’ en sê ek kan kook wat ek wil, vinnig en maklik is haar enigste voorwaardes.
Vinnig en maklik pas my heel goed, so vanoggend douvoordag (OK dit was 9-uur, maar dis vroeg vir my) staan ek bibberend voor haar hek waar Oreo (die honne weergawe van Merlot) my stertswaaiend inwag.
Nina red my van die verkluim met ’n paar koppies koffie, en toe’s dit tyd vir kook. Dis nogal eienaardig hoe lank en moeilik vinnig en maklik kan wees. Ek wik en weeg, maar uiteindelik besluit ek op klein peer-en-marsepein tertjies met sjokolade. Nina neem hulle af en hulle’s te fraai.
Bedien hulle warm met room of roomys. Maklik en vinnig. Daar’s hy. Dankie vir die kuier Nina, dit was vet pret!
Groete tot volgende keer
Lizet & Merlot
P.S. Skakel môreoggend net na 9 in op RSG. Nina het my genooi om te kom gesels.
Al wat jy nodig het is…
blaardeeg (die deeg is die ster hier, so dis dit werd om effe meer te spandeer en behoorlike blaardeeg gemaak met regte egte botter te koop. Woolworths se ’butter puff pastry’ is perfek)
3 pere
marsepein (marzipan)
3E botter, gesmelt
1E strooisuiker
3E appelkooskonfyt, gesmelt
70ml room
100g donkersjokolade
50g amandelvlokkies, gerooster
versiersuiker, vir die moo
Verhit jou oond tot 180 grade Celsius. Rooster die amandels in ’n pan of op ’n bakplaat in die oond tot goudbruin. Verwyder en hou eenkant. Sny agt sirkels uit die deeg (’n omgekeerde teekoppie maak dit makliker). Rol 8 klein balletjies van die marsepein (omtrent een teelepel marsepein per balletjie). Gebruik ’n koekroller om die balletjies plat te druk, hulle moet omtrent so groot soos ’n R5-stuk wees. (Sif bietjie versiersuiker oor die bord en koekroller om te keer dat hulle klou.) Sit een stukkie marsepein op elke deegsirkel.
Sny die pere in dun skywe en plaas ’n paar skywe op elke deegsirkel. So waaier-patroontjie is mooi. Verf die pere met botter en strooi ’n knippie strooisuiker oor elkeen. Bak op ’n kleefvrye bakplaat tot die deeg goudbruin en die pere sag is. Verf met gesmelte konfyt sodra hulle uit die oond kom. Strooi amandels oor en spuit sjokolade oor. Sif bietjie versiersuiker oor en bedien warm met room of vanielje-roomys. As jy die sjokolade/amandel storie ook in die roomys wil herhaal, bedien dit met Woolworths se Tin Roof roomys. Dis een van my gunstelinge.
Vir die sjokolade:
Maak die sjokoladesous terwyl die tertjies in die oond is. Verhit eenvoudig die room in ’n pot op die stoof of in die mikro (moenie dit laat kook nie!). Breek nou die sjokolade in die room in. Die hitte sal dit laat smelt. Roer tot dit glad is. Vir ’n kits spytsakkie, skep eenvoudig die sjokolade in ’n plastiek toebroodjiesakkie. Stoot alles in een hoek in, knip ’n klein gat in die hoekie en daar het hy dit.
bedien
8
vooraf
15 min
kook
25 min
goed om te weet
Nog ‘n vinnige idee
Vir parmantige soet happies, gebruik daai klein geblikte baba appeltjies in plaas van die pere. Sny die deeg baie kleiner, net so 2mm groter as die appeltjies en volg die res van die resep nes hy is.
Sit ‘n spul op ‘n bord met ‘n bakkie room of koue vanielje-vla en laat mense skep en knaag soos hulle lus het. Poeding-vingerkos op sy beste.
lekker saam met
Ek het dit reeds gesê, maar ek sê dit weer – soetwyn is ‘n goeie ding. Veral by poeding en veral as dit ‘n Edel Laatoes is. Nederburg s’n is ‘n groot gunsteling en stel so te sê nooit teleur nie. Maar probeer vir ‘n verandering Delheim se Edelspatz Noble Late Harvest. Hulle 2013 het so pas met die Edel Laatoes louere weggestap by die Old Mutual Trophy Wine Show.
Nee, ‘n Edel Laatoes is nie goedkoop nie. Maar mens drink min. As jy skink, dink maar hoeveel water jy bygooi om ‘n ‘asprin’ op te los en jy’s op die regte spoor.
Los 'n Boodskap