Partykeer gee die lewe mens ’n klap of twee. Dissie lekker nie, maar dis onvermydelik. Met sulke tye soek ek trooskos. Ek sluit die voordeur agter my toe, trek my verflenterde sweetpakbroek aan en vaar die kombuis in.
Bone op roosterbrood is ’n gunsteling as ek bietjie broos voel. Maar nie daai lelike tamatiegemors wat jy in ’n blik koop nie. Haikôna. Die ‘real deal’.
Ek week droëbone in water tot sag en skep hulle in ‘n groot emaljeskottel met stewige stukke gerookte vark, tamatie, lourier, knoffel en ’n paar ander wonderlike goed. Dan’s dit in die oond in om stadig te kook vir ’n paar uur. Die geur trek deur die hele huis en ek voel sommer stukke beter.
Ek meen meeste mense sal dink dis gekkigheid om soveel moeite te doen vir iets so eenvoudig. Daarom het ek my resep aangepas om jou dieselfde rokerige, ryk wonderlikheid te gee – in minder as ’n halfuur.
Al wat jy nodig het is…
1 groot wit of bruin ui, fyngekap
1E varkvet (jy kan olyfolie gebruik, maar ek hou van die diep geur wat varkvet aan hierdie dis gee)
250g gerookte vark ‘rashers’ (Skiet my, maar ek weet nie wat dit in Afrikaans is nie. Die een van Enterprise is perfek.)
3 knoffelhuisies, fyngekap
2t tamatiepasta
¼t gerookte rooirissie vlokkies (Woolies het, of gebruik gewoon as jy nie kan kry nie)
1 groot blik tamaties (800g netto gewig)
1 groot wortel, geskil en in die helfte gesny
1 groot stingel seldery, in die helfte gesny
2 lourierblare (verkieslik vars, maar gedroog sal ook deug)
3 takkies tiemie
1t sout
½t growwe swartpeper
1E rooiwynasyn
2E ligte bruinsuiker (Demerara)
2 blikkies wit bone (cannellini), afgespoel en gedreineer
olyfolie
Italiaanse pietersielie
Smelt varkvet en braai die uie daarin vir ’n paar minute. Sny die vark in groot blokke (van so 2cm) en voeg by die uie. Braai tot lekker bruin. Voeg die knoffel by en braai vir ’n minuut of wat, dan die tamatiepasta. Braai vir twee minute.
Voeg nou die tamaties by (sous en al) asook die wortel, seldery, rissie, sout, peper, lourierblare, tiemie, asyn en suiker. Kook vir 15-20 minute met die deksel op.
Verwyder die wortel, seldery, lourier en tiemie takkies en voeg die bone by. Ek hou van baie tamatie, so ek gebruik net een blik bone, maar jy kan hom strek en ses bedien deur ’n tweede blik by te gooi. Proe vir sout. Bedien op geroosterde ciabatta of baguette. ’n Blerts olyfolie en bietjie pietersielie oor is al wat hy vra. Ek strooi ook nog ’n paar rissievlokkies oor, want ek’s mal oor hitte.
bedien
6
vooraf
5 min
kook
20 min
goed om te weet
Hoe gemaak met droëbone?
As jy hierdie resep met droëbone wil maak, week hulle oornag in water. Bring tot kookpunt in baie water en dreineer en spoel hulle om van die skuim ontslae te raak.
Sit terug in die pot met skoon water (sonder sout) en kook vir 45-60 minute tot sag. Nou’s hy reg om met die tamatiesous te kombineer.
lekker saam met
Tamatie het ‘n stewige suurbasis en soek ‘n wyn met genoeg suur om dit te komplimenteer. My keuse by my tamatie-bone is rooi. Italiaanse Sangiovese of Barbera sal die ding doen (gaan loer by Checkers).
Of probeer ‘n Pinot Noir. Hoopenburg en Elgin Vintners s’n is top kwaliteit gunstelinge hier by die R88 merk. Of probeer Robertson s’n. Dis verbasend goed vir ‘n R55 Pinot.
Los 'n Boodskap