As jy heeldag en aldag met kos werk, of dit nou voor die lens of agter is, is jy nie noodwendig lus vir aandete kook nie. Ek erken dit nou maar prontuit – as dit ’n besonderse woeste dag met 16+ ure op my voete was, is 2-minuut noedels my ding. Om die ketel aan te sit en ’n pakkie MSG op droë noedels te gooi is omtrent al waartoe ek in staat is. As ek bietjie krag het en kans sien vir effe meer wil ek eintlik hê iemand anders moet die werk doen, soos met hierdie resep vir verleidelik romerige sampioen-en-maskarpone pasta. Dit vra net ses bestanddele (olie en S&P tel nie!); niks geskil of gekap nie; en net 15 minute as jy flink is – so ekstra vyf minute as jy ongeorganiseer is.

Bruin en wit sampioene (klaar skoongemaak en gekap deur die supermark natuurlik!) maskarpone en sampioenaftreksel uit ’n boksie vorm die basis. By dit kom parmesaan, tiemie en suurlemoen en jy’s klaar. Kook die pasta terwyl jy die sous maak en dis aandete op die tafel in onder 20 minute. Kyk, ek gaan nie voorgee hierdie is gesond nie. Maar dis vinnig. En dis lekker. En as ek moeg is, is dit al wat tel.

Al wat jy nodig het is…

600g gemengde bruin en wit sampioene, gekap
1E kookolie
5 tiemietakkies
½ koppie water
2 x 25g sakkies ‘mushroom liquid stock concentrate’ van Woolworths (ek is dol oor hulle hele reeks ‘liquid stock concentrate stick packs’)
250g maskarpone
¼ koppie gerasperde parmesaan of pecorino
skil van 1 ekstra groot suurlemoen, gerasper of in baie dun repies gesny
sap van ’n halwe suurlemoen
1 gelykvol eetlepel mielieblom, opgelos in 2E koue water (opsioneel)
sout en vars gemaalde swartpeper, na smaak
gekookte pasta, vir bedien
ekstra parmesaan, vir bedien

Verhit ’n groot dikbodem staalpan tot goed warm. Voeg die olie, sampioene en heel tiemietakkies by en braai, al roerend, op hoë hitte vir vyf minute. Voeg die water, sampioenaftreksel, suurlemoenskil, maskarpone en parmesaan by en roer tot glad. (As die sous te dun na jou smaak is, voeg op die stadium die opsionele mielieblom by.) Bedek en kook vir ’n verdere vyf minute op lae hitte. Verwyder van die hitte, voeg die suurlemoensap by asook heelwat swartpeper, sommer so tien draaie van jou pepermeul. Ek het ook ’n gesonde knip sout bygevoeg, maar proe en pas aan soos nodig.

Bedien met enige pasta van jou keuse en ekstra parmesaan. Ek het fraaie Pantacce pasta gebruik (gemaak deur la Molisana en verkrygbaar by Checkers). Dis in die vorm van ’n diamant met frilletjies rondom, en herhinner my half aan daai preutse frilletjie-belaaide nommertjies wat vroue tennisspelers in die 70s onder hulle spierwitte tennisrompies gedra het. Tog te prettig en bietjie interessanter as die alewige penne, fusilli en farfalle.

bedien

4

vooraf

0 min

kook

15 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English