Dit vat nie veel om my by ’n wynplaas te kry nie. Daar’s mos wyn daar, en soos heelwat mense seker nou al weet, is dít my tweede gunsteling ding in die wêreld. Wuif my gunsteling ding – kos – ook voor my neus en ek’s klei in jou hande. Die mense by Laborie in die Paarl weet dit seker. Dis dié dat hulle my nooi om laas Saterdag te kom kuier. Die okkasie? Al die wenners van Laborie se Home Cook Heroes wedstryd is daar en uitvoerende sjef, Matthew Gordon, gee die wenresepte sy fênsie sjef kinkel. Ons smul aan garnaal-en-chourico tagliatelle, salm met ’n Teriyaki sousie ding en osstert met polenta. En ons kuier ’n hond uit ’n bos.

scroll-main

Laborie kuier: Van links na regs: Cecile en Natalie Marais (osstert wenners), Melody Vicatos (mosselsop wenner) en Margie de Beer (sjokoladepoeding wenner). En natuurlik Cellar, die plaaskat.

scroll-main

Dis nou alles goed en wel vir my, maar wat van jou? Laborie sê my hulle gaan die wedstryd waarskynlik herhaal. Dit was vet pret, so hou hulle Facebook blad dop. Maar nóg belangriker, gaan loop ’n draai by Laborie. Ek weet Franschoek is, wel ‘Frans’ en ons boere het hoeka ’n ding oor Frans. En ek weet Stellenbosch is, wel, S.T.E.L.L.E.N.B.O.S.CH. Maar die Paarl is ’n pêrel van ’n plek met sommer heelwat spogwyne. As die stad jou engtevrees gee, is Laborie met sy ongelooklike uitsig oor die du Toitskloof berge in die verte net die ding om jou kop weer reg te kry.

’n Kaaps-Hollandse herehuis, stokoue akkerboom reuse, wingerde getooi in laatherfs geelgoud en ’n plaaskat genaamd Cellar – jip, Laborie het dit alles. ’n Standaard wynproe met vyf wyne kos R25. Dan’s daar ’n sjokolade wynproe vir R35, of een met olywe vir R30. Sjokolade en wyn was my ding Saterdag. Laborie se Rosé MCC met witsjokolade met ’n knerts roos was ’n onthulling. Toe die Chardonnay met ‘lemon verbena’ sjokolade. Ag jene. Maar die een waaroor ek nog lank gaan droom was hulle soet Pineau met vanielje-pruim sjokolade. Ek’t nie woorde nie.

laborielogo

waar

Tailleferstraat,
Paarl

besigheidsure

9vm-5nm Maandag-Saterdag

oop sondae

11vm-5nm

kontak

021 807 3390

Cat4

Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As ‘n iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling. Ek bly in die Kaap en gevolglik is my fokus meestal op Kaapse dinge. Ons land is groot en mooi en ek wil graag van alles hoor. Ek nooi jou om al jóú gunsteling markte, feeste, restaurante en wynproe plekke met ons te deel. Skryf eenvoudig jou aanbeveling in die ‘BOODSKAP’ blok hieronder.

scroll-main

Deel hierdie artikel

Ook beskikbaar in: English