Katte is nogal balletiese (is dit ’n woord?) diere. Die manier waarop Merlot haar been oplig en so ’n 180-grade ‘arabesque’-tipe ‘move’ doen om haar boud te lek, is heel indrukwekkend. Ek wens ek was so soepel. Natuurlik nie om myself te lek nie – ek’s nie daai tipe pop nie. Maar dit sal sommer baie handig te pas kom wanneer ek laag moet buk om my industriële-grootte oond skoon te maak.
Ek het my puntskoene donkiejare terug opgehang. Die naaste wat ek deesdae aan ballet kom is wanneer ek ’n Pavlova bak. Dis toeka se tyd spesiaal vir die Russiese ballerina, Anna Pavlova, gemaak en vandag, amper ’n honderd jaar later, is dit eenvoudig een van my gunsteling poedings. Hoekom? Want jy kry maksimum impak vir minimum werk. Klits eierwitte en suiker saam, bak dit en pak dit vol geklopte room en enige vrugte van jou keuse. Kannie makliker wees nie.
As dit kom by vrugte, hou niks kers vas by laatsomer nie. Vir my is hierdie tyd van die jaar soos ’n 40-jarige vrou – volryp en op haar mooiste. Ek kry steeds al die vroeësomer vrugte – lietsjies, perskes, veselperskes en bessies – maar ek sien ook pruime, druiwe en pere. Laas Saterdag loop ek Karoo-vye by die Oranjezicht City Farm mark raak. Donker pers buite, helder pienk binne en stroopsoet, ek moes eenvoudig iets spesiaals met hulle doen. En hier is dit: my Bruinsuiker-en-amandel Pavlova met Brandwyn-room, Karoo-vye en Gemmer. Dis ’n laaaaang titel, maar dis reg so, want Anna was ’n grênd vrou.
Al wat jy nodig het is…
4 ekstra-groot eiers, geskei
¾ koppie strooisuiker
4E bruinsuiker
1t mielieblom
½t witasyn
2E amandelvlokkies
350ml vars room
2E strooisuiker
1t goeie brandewyn of konjak (opsioneel)
vye (verkieslik die een met die pers skil)
gemmer gepreserveer in stroop (Illovo maak een)
1E amandelvlokkies, gerooster
Voorverhit jou oond tot 150°C. Klits die eierwitte tot hulle styf is. (As jy die bak kan omkeer sonder dat die eiers beweeg, is hy reg.) Voeg nou die bruinsuiker bietjies op ’n slag by terwyl jy deurentyd klits. (Jy kan ’n elektriese handmenger gebruik, maar ’n groot ding soos ’n Kenwood of Kitchen Aid menger werk eenvoudig beter. Net mense van lotjie getik pak hierdie storie aan met ’n gewone handklitser.) Voeg nou die strooisuiker stadig by terwyl jy steeds deurentyd klits. Klits die mielieblom en asyn by saam met die laaste bietjie suiker. Die mengsel moet styf en blink wees. Vou twee eetlepels amandels versigtig in.
Voer ’n bakplaat met bakpapier. (Die ding klou woes, so ek gee hom gewoonlik sommer ’n spuit Spray ’n Cook ook.) Skep die stywe eiermengsel in ’n sirkel op die plaat. Sit in die oond en draai die temperatuur af tot 140°C. Bak vir 60-90 minute tot die skuimpiekors (meringue) bros buite en nog effe sag in die middel is. Skakel die oond af en laat dit in die toe oond afkoel. (Jy kan die skuimpiekors tot hiertoe maak die vorige dag en goed toedraai in kleefplastiek om dit droog te hou.)
Klits die room styf met die suiker. My resep sê twee eetlepels, maar voeg dit stadig by en proe liefs want almal se tand is nie ewe soet nie. Vou die brandewyn deur die room. Skep die room op die skuimpiekors en bedek dit met vye, versnipperde gemmer, van die gemmerstroop en 1E geroosterde amandelvlokkies. (Ek het gedroogte granaatpitte in die kas gehad, toe gooi ek hulle ook oor, sommer net vir die mooi.) Bedien onmiddellik.
bedien
6-8
vooraf
15 min
kook
90+ min
goed om te weet
Nog idees
- Vervang die amandels met pistasie-neute
- Vervang die bruinsuiker in die eierbeslag met ekstra strooisuiker en laat die amandels uit. Voeg ‘n paar druppels vanielje-ekstrak by die room in plaas van die brandewyn en vervang die vye met my klassieke gunsteling vir ‘n Pavlova – aarbeie, bloubessies en frambose. O.N.G.E.L.O.O.F.L.I.K!
- Moenie die eiergele weggooi nie. Gebruik hulle om behoorlike outydse vla te maak.
lekker saam met
Poeding vra soetwyn. En ja, soetwyn ís ‘klaasie’ – as jy dit reg doen. My keuse by hierdie Pavlova is Perdeberg se Weisser Riesling Reserve Natural Sweet 2011. Dis ‘n pryswenner wyn hierdie (2013 TAJ Classic Wine Trophy) met wonderlike appelkoos en lemmetjie op die neus en genoeg suur om die soet goed te balanseer.
Wys jy kén van en bedien hom yskoud saam met poeding.
Los 'n Boodskap