Tert klink so… wel, terterig. Soos alle Afrikaanse woorde, is dit ’n wonderlike woord, maar ek sou nou nie juis sê dis ons elegantste woord nie. Sê dit in Frans – ‘tarte’ – en dit val op die oor soos ‘n klinkende silwer klokkie. Die Franse het ’n ‘tarte au fromage blanc’ – ’n gesofistikeerde nommertjie gemaak van ’n sagte wit kaas met rosyne en versuikerde vrugte. Toe dog ek nou, kom ek doen iets soortgelyks. Maar in plaas van ‘fromage blanc’ gebruik ek roomkaas en ’n bietjie suurroom. En kom ek gooi boerejongens by in plaas van die versuikerde vrugte. Weliswaar sommer net ’n tert, maar ’n elegante een – met ‘n grênd Franse sussie.
Al wat jy nodig het is…
Vir die kors
175g koekmeel
25g versiersuiker
100g yskoue botter, in blokkies gesny
geel van een eier
1E koue water
(Ek het jare gesoek na ‘n tertkors wat élke keer werk. Hierdie een van Mary Berry, daai Engelse doyenne van al wat ‘n gebak is, is so ‘n resep.)
Vir die vulsel
350g roomkaas
225g strooisuiker
150ml suurroom
4 groot eiers
70g boerejongens (as jy nie het nie, gebruik sommer net gewone rosyntjies)
20g versuikerde gemmer, baie fyn gesny (opsioneel)
Voorverhit jou oond tot 200°C. Meng die koekmeel, versiersuiker en botter met die punte van jou vingers (of in ‘n voedselverwerker) tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg die eiergeel en water by en meng totdat dit ’n deeg vorm. Knie vir ’n minuut of twee, draai toe in kleefplastiek en plaas in die yskas vir 30 minute.
Rol die deeg uit (op ’n meelbestrooide oppervlak), voer ’n gesmeerde 23cm losbodempan daarmee en plaas weer in die yskas vir 5 minute. Prik die bodem met ’n vurk, voer die hele pan met tinfoelie, maak hom tot bo vol met rou rys en bak dit teen 200°C vir 10 minute. Haal uit, verwyder die tinfoelie en rys en bak vir nog 12 minute totdat die bodem van die kors droog is. (’n Tertkors is soos ‘n babatjie, hy wil nie ’n nat boud hê nie.) Laat afkoel in die pan en sny versigtig enige oortollige deeg af sodat die tertdop netjies is soos ’n troep op parade.
Vir die vulsel, klits die eiers. Voeg hulle by die roomkaas, suurroom en suiker en meng met ’n lepel (gebruik ’n ligte vou aksie, hierdie is nie ’n ding wat geklits moet word nie). Vou nou die boerejongens en gemmer by en gooi die mengsel in die tertdop. Bak vir 30 minute teen 190°C. Verlaag dan die temperatuur tot 150°C en bak vir nog 20-25 minute tot lig goudbruin en gestol.
bedien
12
vooraf
1 uur
kook
1 uur
goed om te weet
Boere wat?
Boerejongens! Vir die van julle wat nie weet wat dit is nie, dis ‘n ou boereresep van Hollandse afkoms – sommer maar net sultanas in ‘n soet brandewynstroop, maar jene is dit lekker. Gaan loer by jou tuisnywerheid. Ek maar sommer my eie. Verhit eenvoudig een koppie water en ‘n twee derde koppie suiker tot die suiker gesmelt is. Sit die skil van ‘n lemoen of suurlemoen en 200g sultanas by en kook vir 10 minute.
Gooi die spulletjie in ‘n gesteriliseerde fles (maak hom tot bo vol), voeg ‘n hele paar eetlepels brandewyn by, seël en stoor dit in ‘n donker kas vir so maand of wat. Wonderlik oor vanieljeroomys, saam met sterk kaas en beskuitjies, met neute, heuning en volroom joghurt.
lekker saam met
‘n Soet ding vra vir ‘n soet wyn – ‘n poedingwyn. Slanghoek Creme de Chenin Natural Sweet Chenin Blanc 2010 (met ‘n titsel hanepoot vir die ekstra lekkerte) is so een.
Komplekse lemoen, appelkoos en ‘n sweempie karamel maak hierdie ‘n wonderlike kopie hier by die R50 merk.
Los 'n Boodskap