Dis hier skuins voor agt op ‘n Saterdagaand en ek’s in my nagklere op die bank met ‘n ou Rambo fliek wat in die agtergrond op DStv blêr. Nou voor jy vir my jammer voel oor hoe ‘sad’ my lewe is, laat ek vinnig verduidelik want daar’s goeie rede dat ek so onbetaamlik vroeg in my ‘jaamies’ is. Na sewe ure in 36-grade hitte met baie goeie wyn, hopeloos te veel wonderlike kos en tonne geskerts met pêlle sal jy ook poegaai wees. Jip, dis weer tyd vir die jaarlikse Constantia Kos en Wyn Fees op die Constantia Uitsig landgoed. Constantia is ‘n klein wynstreek maar, met sy wonderlike weer, sorg hierdie area vir uithaler wyne. En hulle is almal hier vir die proe – Eagles Nest, Steenberg, Klein Constantia, Beau Constantia, die lot. R150 koop vir jou toegang, ‘n glas en kaartjies vir die proe. As jy eers op jou gunsteling besluit het, koop ‘n bottel en maak jou reg vir ernstig kuier.
Constantia Kos en Wyn Fees: Vriende, kos en wyn – al my gunsteling goed.
Daar is tente en sambrele, maar as jy slim is, pak jy ‘n groot kombers en sprei hom oop onder die bome. Dis nie net die wynmakers wat pronk nie. Restaurante van die vallei het ook hulle beste voetjie voor met knabbeldinge was jou in vervoering sal hê. Dink eend parfait met appelkoos blatjang. Of oesters met ‘n sjampanje sousie. En as dit vir jou effe volksvreemd klink, wat van Karoo lamtjoppies op die braai? Vir die soet, lê weg aan bloubessie-kaaskoek, tuisgemaakte perske roomys en amandel skuimpies. Daar’s hope vir die kinders om te doen, so bring hulle saam. As jy hierdie op Sondag 13 April lees en jy’s in Kaapstad het ek net een ding om vir jou te sê – vat die pad Constantia Uitsig toe en geniet ‘n fees van ‘n dag!
Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As ‘n iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling. Ek bly in die Kaap en gevolglik is my fokus meestal op Kaapse dinge. Ons land is groot en mooi en ek wil graag van alles hoor. Ek nooi jou om al jóú gunsteling markte, feeste, restaurante en wynproe plekke met ons te deel. Skryf eenvoudig jou aanbeveling in die ‘BOODSKAP’ blok hieronder.
Los 'n Boodskap