My stilte die afgelope paar weke is oorverdowend. My gesig is rooi, want mense skryf en vra “hoe dan nou”? My enigste verskoning is dat ek woes besig was – met resep ontwikkeling, kos mooimaak en kiekies neem. ’n Pop moet ongelukkig werk vir ’n lewe. En na al die woekery vat ek die pad Kwa-Zulu toe vir ’n week om liggaam en siel te loop lawe. Ek moes nie gebodder het nie want mense, die hemele open en dit reën en dit reën – vir vier dae en vir vier nagte. Langer en ek sou aan ’n ark begin bou. So met die reën lê my rooi bikini nommertjie ongedra in die time-share kas en ek kook en ek bák. Sommer baie pannekoek want daar’s tog niks beter reënkos nie. Maar Madeleines is ook ’n bietjie van ’n ‘contender’ vir goor dae.

Jy kan seker Madeleines as skulpvormige Franse sponskoekies beskryf. Maar dit sal wees soos om te sê Usain Bolt is nogal nie te stadig nie. Nee, om regtig die siel van ’n Madeleine te verstaan loop klop liewer aan by die Franse literêre reus, Marcel Proust. Dis hier by die honderd jaar sedert hy tee en die Madeleine verewig het in sy werk À la recherche du temps perdu (Op soek na verlore tyd) met die woorde: “No sooner had the warm liquid mixed with the crumbs touched my palate than a shudder ran through me and I stopped, intent upon the extraordinary thing that was happening to me.” Ek hou nogal van mense wat sidder van die lekker oor kos.

Ek het al talle Madeleine resepte probeer oor die jare, sommige met meer sukses as ander. Een van my gunstelinge bly superster sjef Daniel Boulud s’n. Hoe kan dit dan nou anders, hy is tog Frans. Die resep is effe verander 1) om te pas by wat ek in my koskas het en 2) omdat ek van my Madeleines hou met hope ekstra suurlemoen geur.

Al wat jy nodig het is…

2 ekstragroot eiers
⅓ koppie witsuiker
2E heuning (of 1E heuning en 1E bruinsuiker soos Daniel hom maak)
1t bakpoeier
½t sout
¾ koppie koekmeel, plus ekstra vir die Madeleine pan
3t fyngerasperde suurlemoenskil (oftewel die skil van 2 ernorme suurlemoene)
6E ongesoute botter, gesmelt en steeds warm (op die dag het ek net gesout in die yskas gehad en dis piekfyn)
kleefvrye baksproei
versiersuiker
suurlemoensap

Sit die eiers, suiker en heuning in ’n groot bak en klits dit met ’n elektriese klitser tot lig en skuimerig. Sif die meel, bakpoeier en sout in en voeg die suurlemoenskil by. Roer tot net gekombineer. Gooi nou die warm botter by en roer of klits tot deurgemeng en glad. Bedek die oppervlak van die mengsel met kleefplastiek en plaas dit in die yskas vir ten minste een uur. (Wenk: jy kan hierdie mengsel vir tot 24 uur in die yskas hou! Perfek vir gaste en skoonma beïndruk met varsgebak.)

Spuit die Madeleine pannetjie met die kleefvrye sproei. (Hierdie pan met sy skulvormige holtetjies is by meeste spesialis bak- en kombuiswinkels te koop en die prys is gewoonlik billik.) Bestrooi volgende al die holtes mildelik met koekmeel, keer die pannetjie dan om en tik liggies om van die orige meel ontslae te raak. Madeleines kleef soos ’n duiwel, amper so erg as ongewenste vrinne aan lotto wenners, so hierdie meel storie stap is belangrik.

Voorverhit jou oond tot 200 grade Celsius. Vul elke skulpie twee-derdes vol. Tik die pan liggies op jou kombuistafel om van lugblasies ontslae te raak. Gooi die knaap in die oond en bak vir 10-12 minute tot goud en deurgebak. As jy die Madeleine liggies met jou vinger druk en dit spring terug is dit reg. Bedien die Madeleines warm uit die oond met net ’n titsel versiersuiker oorgesif vir die mooi. Of laat hulle heeltemal afkoel en doop hulle in suurlemoen-versiersuiker. Dis eenvoudig suurlemoensap gemeng met versiersuiker tot dit dik genoeg is vir kleef aan die Madelein. Laat die versiersuiker effe set voor jy dit voorsit.

Hierdie resep maak 12-16 Madeleines afhangend van hoe groot die pannetjie se skulpholtes is. Ek sit op een slag sommer maklik vyf of ses van hierdie elegante nommertjies weg. Ek skaam vir my dood, maar dis hoe dit is. Dus verdubbel ek gewoonlik die resep en bekommer my later oor daai rooi bikini.

maak

12-16

verkoel

1+ ure

bak

10-12 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

Ook beskikbaar in: English