Kyk as dit by braai kom is ek net so lief vir tjop-’n-dop soos die volgende ou. Maar hier’s die ding – mens kan nou nie juis sê dis elegant nie. En ’n vrou het darem ’n reputasie. So as ek mense vir ’n braai oornooi gooi ek altyd iets groots op die kole. Soos my lamsboud provol Mediterreense geure. Of varklende met vinkel. Of heel hoender. Hierdie een met roosmaryn, knoffel en suurlemoen is ’n gunsteling. Lekker Nasionale Braaidag!
Al wat jy nodig het is…
1 groot hoender (ek koop net ‘free range’, jy kan proe die hoender was gelukkig)
3E botter, teen kamertemperatuur
4 vet huisies knoffel, steeds in die skil
3 suurlemoene
paar takkies vars roosmaryn
olyfolie
seesout (ek verkies Maldon)
growwe swartpeper
Lig versigtig die hoendervel van die borsies af en druk die botter onder die vel in. (Hoenderborsies is bra droog, die botter help om hulle sappig te hou.) Druk die knoffel, roosmaryn en ’n halwe suurlemoen in die hoender in (of twee halwes suurlemoen as die hoender baie groot is). Vryf die vel met olyfolie en sprinkel mildelik met sout en peper. Sit in die middel van jou ketelbraai (Weber) met ’n aluminium dripbak onder die hoender. Sit die deksel op en braai vir ’n uur. Haal die deksel na ’n uur af en toets deur die hoenderdy te sny waar hy met die hoenderlyf kennis maak. As die sap helder loop is hy reg, as jy pienk sien gee hom nog so paar minute.
Verwyder die hoender en laat hom vir ten minste 15 minute rus, verkieslik effe langer. Sny die orige suurlemoene in die helfte en plaas hulle met die gesnyde kant na onder op die braai tot hulle lieflike bruin strepe het en begin karameliseer. Bedien die hoender op ’n groot bord met roosmaryn takkies vir die mooi en die gebraaide suurlemoene sodat mense sap oor die hoender kan druk. As daar sous in die dripbak is, gooi dit in ’n klein bekertjie saam met enige vloeistof wat uitgeloop het terwyl die hoender gerus het. Sit dit ook op die bord saam met die hoender.
Druk van die geroosterde knoffelhuisies uit en meng die knoffelpasta met goeie mayonnaise en sit voor in ’n klein bakkie. Maak ’n groenslaai met ’n mengsel mooi blare gekus met vinaigrette en strooi sommer kappertjie blommetjies ook oor, tog te fraai. ’n Bros ciabatta en my rokerige braaimielies daarby en jy’t ’n eenvoudige maar elegante fees.
bedien
6
vooraf
5 min
braai
60 min
goed om te weet
Aspersies op die braai…
Vroeë-seisoen aspersies is nou op die rakke en hulle’s heerlik op die braai. Verf hulle eenvoudig met olyfolie en gooi hulle op die kole vir ‘n paar minute. (As hulle dun is, kan hulle dadelik braai toe gaan. Maar as hulle effe dikker is, help ek die storie bietjie aan deur hulle eers vir ‘n minuut te kook, dan in koue water af te spoel en droog te klad voor ek hulle met die olie verf.)
‘n Knippie seesout, ‘n skeut van die gebraaide suurlemoen, dip die punt in die knoffel-mayonnaise en die Kaap is weer Hollands.
lekker saam met
Dis weer Chenin by die braai! Villiera se 2014 Barrel Fermented Chenin Blanc is nog ‘n Standard Bank Top Tien Chenin wenner, en wat ‘n ster is dit nie. Ek’s mal oor hout op ‘n Chenin. Villiera s’n is in hout vir vier maande, met die helfte daarvan in nuwe Franse vate.
Met ‘n kelderprys van onder R95 is hierdie ‘n wenner vir ‘n spesiale ete. En Nasionale Braaidag is mos spesiaal, of hoe?
Los 'n Boodskap