Patats wat sommer blink is van al die botter en stroop. Pampoenkoekies met suiker en kaneel. My Engelse geliefdes verstaan glad nie dié boere ding van soet saam met vleis nie. Ek vrek onbeskaamd daaroor en is gedurig op soek na nuwe soet-met-vleis kombinasies. Een van my gunstelinge op die oomblik is vinkel. Dis heerlike rou in slaaie, maar gerooster met olyfolie en ’n skootjie esdoringstroop is dit nog lekkerder. Vinkel is mál oor vark. Wat kan dan nou makliker wees as ’n vet, sappige varkburger met geroosterde vinkel.

Al wat jy nodig het is…

Vir die geroosterde vinkel
1 groot vinkelbol (fennel) of 5 kleintjies, in 5mm skywe gesny
1 groot rooi-ui, in 5mm skywe gesny
2E esdoringstroop (maple syrup)
2E olyfolie
knippie sout
¼t rooirissie vlokkies
½t rooiwyn asyn

Vir die varkburgers
800g varkmaalvleis
1 sny witbrood, korsies afgesny en geweek in 3E melk
½ knoffelhuise, fyngedruk
1 klein eier
½t sout
¼t swart peper
5 salieblare, fyngekap (of 1E gedroogde salie)
1E pietersielie, fyngekap
4E parmesaan-kaas of pecorino-kaas, gerasper
2E olyfolie en 2E botter vir braai
slaaiblare
4 broodrolletjies

Meng die vinkel en uie met 2E olyfolie, 2E esdoring-stroop, asyn, rissie en knippie sout. Rooster dit op ’n vlak bakplaat teen 220°C vir 20-25 minute. Roer af en toe sodat dit alkant lekker karameliseer. Maak intussen die burgers. Druk die brood tot droog en meng met die maalvleis, knoffel, eier, sout, peper, salie, pietersielie en kaas. Verdeel in vier gelyke porsies en vorm burgers.

Braai in olyfolie en botter op ’n medium hitte. Bedruip die burgers deurentyd met die olie/botter mengsel terwyl jy hulle braai. Dit help om hulle super sappig te hou. Vark is nogal ’n ding wat kan sukkel. Hy moenie pienk wees nie, maar hy’s ook maklik droog. Sodra die pienk weg is, is hy reg. Ek was konserwatief met die sout, so proe maar by die tafel. Bedien met die slaaiblare en groente op bruingeroosterde broodrolletjies liberaal gesmeer met regte botter. As jy plaasbotter in die yskas het, soveel te beter!

bedien

4

vooraf

10 min

kook

25 min

Gehou van die resep? Deel dit!

scroll-main

goed om te weet

O vet…

My ouma het dit ‘dripping’ genoem en gebruik soos wat ek vandag olyfolie gebruik. ‘n Varkburger gebraai in varkvet (lard) is ‘n vreeslike bederf – dit proe pure plaas. In hierdie dimpelvrye-dye/hartspier-bewuste tye kan dit nogal neuk om varkvet in die hande te kry. As ek dit raakloop, koop ek en steek dit in die vrieskas. Dit hou so te sê vir ewig. Verbruin jou vleis daarin volgende keer as jy bredie maak. Jy sal die verskil proe.

scroll

‘n Ode aan die beskeie varkie

My gunsteling inval vir enigiets te doen met vark is Joostenberg Deli buite Stellenbosch. Die plek’s ‘n ode aan die vark – die kwaliteit wonderlik, die pryse uitsonderlik. Gooi by die belofte van ontbyt met die wonderlikste wit plaasbrood en ek’s daar sonder dat jy my twee keer hoef te nooi.

lekker saam met

Rosé is een van daai wyne waarvoor mense wat nie beter weet nie neus optrek. Die soet, helderpienk pogings van 20 jaar gelede het nou nie juis gehelp om rosé ‘n goeie naam te gee nie.

Droog of met net ‘n sweempie suiker en ligpienk soos wat hulle hom in die suide van Frankryk maak is perfek vir my. Een van my goedkoop gunstelinge is Lourensford se The River Garden Rosé. As jy iets rooier verkies, probeer ‘n Pinot Noir.

Lourensford River Garden Rose

scroll-main

Ook beskikbaar in: English