Daar’s min kos wat vir my seksier is as pasta. Moontlik omdat die prentjie van ’n jeugdige Sophia Loren, met ‘n bord spaghetti teen haar pragbates vasgeklem, my vir altyd sal bybly. Ek dink dit was in die Rooi Rose. Nogal wulps vir daai dae, seker dié dat dit so ’n indruk gemaak het. Pasta verdrink onder ’n ton sous is nou nie hoe die Italianers dit doen nie. Een van my 5-minute gunstelinge is sommer net knoffel, rooirissie en pietersielie. ’n Minuut of wat in ’n warm pan met goeie olyfolie en hy’s klaar. Hy slaan jou katswink met sy geur. En dís die geheim van ’n goeie pastasous – minder sous, parmantige geur. Nog ’n gunsteling is tamatiesous. So eenvoudig, maar doen jy dit reg, sing jy opera. Dit sukkel half om ordentlike geur uit die gemiddelde tamatie te tower. My geheim? Rooster hulle stadig in ’n lae oond tot hulle suikersoet is. ’n Sweempie mascarpone by en jy’t ’n verleidelike, fluweel-sagte nommertjie waaroor jy onbehoorlike drome kan hê.
Al wat jy nodig het is…
400g klein ryp-rooi rosa tamaties
1E vars origanum, fyngekap
1E knoffel, fyngekap
¼t gerookte rissievlokkies (Woolies het)
¼t sout
4E olyfolie
1 rooi ui, fyngekap
1t tamatiepasta
3E mascarpone-kaas (dik vars room sal ook werk)
½t rooiwyn asyn
growwe swart peper
sout na smaak
pers basiliekruid
parmesaan-kaas
Sny tamaties in die helfte in die lengte. Meng met die origanum, knoffel, ¼t sout en 3E olyfolie. Gooi op ’n bakplaat en bak teen 140°C vir 40 minute.
Braai intussen die uie in bietjie olyfolie tot sag. Sodra hulle sag is, voeg die tamatiepasta by en braai vir ’n minuut of twee (dit raak van daai onaangename skerpheid van tamatiepasta ontslae). Sodra die tamaties gekook is, gooi hulle en die uie in ’n voedselverwerker en blits tot dit ’n puree is. Sit nou die lot in ‘n fyn sif en werk dit deur met ‘n lepel. Wonderlike fluweelsagte tamatiesous kom onder uit en die pitte en skille bly in die sif agter. Sit die tamatiesous terug op die hitte en roer die mascarpone-kaas by. As die sous effe te dik na jou smaak is, voeg bietjie van die vloeistof waarin jy jou pasta gekook het by. Net voor jy opdien, voeg die asyn by, ‘n skootjie swart peper, proe vir sout en jy’s reg. Bedien met ‘n pasta van jou keuse, pers basiliekruid (ek’s mal oor die pers teen die rooi) en vars parmesaan-kaas.
bedien
2
vooraf
10 min
kook
50 min
goed om te weet
Ek’t ‘n broertjie dood…
…aan die droeë, poeierige parmesaan-kaas wat in daai klein plastieksakkies verkoop word. Die goed ruik en proe soos ou skoene. Nie dat ek al ou skoene geproe het nie, maar ek’s seker as ek dit ooit sou doen, sal dit soos die poeier-parmesaan wees.
Koop jou parmesaan-kaas in ‘n blok en rasper soos jy nodig kry. Dit mag duur lyk, maar dit strek ver. As jy nie parmesaan-kaas kan kry nie, sal pecorino ook deug.
lekker saam met
Probeer vir ‘n slag ‘n rooiwyn wat bietjie ongewoon is. Sangiovese (die Italiaanse druifsoort wat vir Chianti gebruik word) is perfek vir enige tamatie-basis pasta of pizza. Woolies verkoop Farnese Sangiovese Terre Di Chieti.
Dis lig, met wonderlike aarbei en swartkersie geure en dis onder R50! As jy will uithang, probeer Anthonij Rupert se Terra Del Capo Sangiovese. Lieflik en, vir die kwaliteit wat jy kry, goeie waarde teen R75.
Ek kry n groot lekkerte as dit lyk of my gesin hulle borde wil begin uitlek,en dié resep doen net dit ! Die lekkerste lekker ! Baie dankie
So bly julle hou daarvan Petro. Gepraat van bord uitlek, probeer my Idealmelk roomys resep. Dis ‘n ou gunsteling wat hierdie somer sommer een van my nuwe gunstelinge is. Lekker Kersfees vir jou en jou gesin!
Groete, Lizet.
Vir n koue, reënerige aand hier in die Kaap, was dit nou n wenner. Dankie!
Wonderlik om te hoor Catherine. Dankie vir die terugvoer!